60 honde sonder huise

Ná een van die grootste instromings van hondjies sonder huise in ’n lang tyd, word meer as 60 babahondjies op die oomblik by die Animal Welfare Society (AWS) in Stellenbosch versorg.

Dit is die eerste keer in jare wat daar so ‘n groot instroming was, het Anwar Arnolds, ‘n werknemer van die AWS, gesê.

“Ons is onder baie druk, ons het nie so baie hondjies verwag nie.”

Met verlede jaar se dragseisoen was daar sowat 30 babahondjies.

Arnolds het gesê dat mense los die hondjies doodeenvoudig in ‘n boks voor hul deur.

“Ons sukkel om na al die hondjies te kyk en die werklikheid is dat daar enige oomblik nog kan opdaag.”

Hulle beoog lankal om ‘n sentrum te bou spesifiek vir die versorging van babahondjies, maar dit is nog in die beplanningfase en die bou daarvan sal eers in Maart begin. Geld is egter ‘n probleem.

Arnolds voer aan die rede vir die oormaat hondjies kan toegeskryf word daaraan dat mense nie hul honde laat steriliseer nie. Hy is van mening dat onkunde die rede is en maan mense om hul honde te laat steriliseer.

“Mense glo verkeerdelik dat ‘n hond eers moet kleintjies kry voordat die dier gesteriliseer kan word, dit is nie waar nie.”

Daar is darem een ligpunt. In Januarie het die AWS die meeste aannemings van honde ooit gehad. 52 honde is aangeneem waarvan sowat 90% babahondjies was. Arnolds sê dit wys dat mense tog gewillig is om honde aan te neem eerder as te koop.

In Februarie het die getal aannemings weer gedaal tot sowat 15.

Die gemeenskap kan betrokke raak by die organisasie deur skenkings. Arnolds sê dat geldelike hulp altyd nodig is en dat hulle baie afhanklik is van mense se skenkings om voort te bestaan. Skenkings soos kos is ook nodig.

Arnolds sê hul stel dit ook hoog op prys wanneer mense bereid is om hul tyd op te offer om te kom uithelp.

“Ons het soveel dinge wat ons besig hou, ons het nie tyd om die nodige aandag aan elke hondjie te gee nie. Hulle benodig aandag om te verseker dat hulle in ‘n huis sal kan aanpas wanneer hulle reg is om aangeneem te word.”

Die Animal Welfare Society beywer hulle vir die regte van diere. Vir meer inligting besoek hulle Facebook blad: Animal Welfare Society Stellenbosch.

Foto: AWS se Facebook-blad

,