Van dominee tot Rock ‘n Roll: Agter die Woordfees-skerms met Danie Marais

Op die ouderdom van tien het hy gedink hy sou ’n dominee word, maar min het Danie Marais, joernalis, digter, rubriekskrywer en radio-persoonlikheid, geweet hy sou eendag in die musiekbedryf werk of selfs as ’n organiseerder by die US Woordfees opeindig.

Marais het onlangs die titel as skakelbeampte van die US Woordfees en koördineerder-organiseerder van die Filmfees ontvang. Alhoewel Marais met die Eugène Marais, Ingrid Jonker en UJ-debuutpryse vir sy digbundel In die buitenste ruimte bekroon is, voel hy dat hy nie homself ’n digter moet noem nie.

“Ek glo ’n digter is net ’n digter wanneer ander mense hom een noem,” vertel hy.

Marais het op ’n jong ouderdom reeds belangstelling in die kunste getoon en is selfs deur sy pa op ’n skool aand by ’n Johannes Kerkorrel-vertoning afgelaai. Dit is juis die Voëlvry-beweging wat vir Marais gehelp het om sy identiteit te ontwikkel, vertel hy.

ʺNiks wat Valiant Swart of selfs Fokofpolisiekar vandag doen sou enigsins denkbaar wees as dit nie was vir Kerkorrel en Koos Kombuis was nie,” voeg hy by.

Danie-Marais_Foto_Naomi-Bruwer_600-600x400.jpg

Die joernalis, digter, rubriekskrywer en radio-persoonlikheid, Danie Marais, verskyn nie net agter die skerms vir die organisasie van die US Woordfees nie, maar lewer ook op 10 Maart ’n gesprek oor poësie by die ATKV-boektent. FOTO: Naomi Bruwer

“Ek was nog altyd totaal obsessief oor musiek,” vertel Marais. “My Duitse eksvrou het altyd gesê al waaroor ek omgee is boeke, musiek en flieks.”

Hy glo egter dat iemand wat omgee oor hierdie soort dinge outomaties sal omgee oor alles anders in die wêreld.

Volgens Marais was dit vir hom ’n teleurstelling om grootmens te word en het hy die afgelope twee dekades probeer om dit te hanteer. Boeke, musiek en films het hom natuurlik hiermee gehelp.

Marais sê dat die perfekte werk vir hom in musiek-konsultasie sal wees. ʺAlexandra Patsavas moet die lekkerste werk in die wêreld hê,ˮ vertel hy.

Patsavas werk tans as ’n musiek-konsultant vir die gesogte televisiereeks, Grey’s Anatomy, waar sy musieksnitte vir elke toneel uitkies. 

Hy is wel baie gelukkig in die Woordfees-kantoor en vertel dat hy trots is daarop om hom met dié fees te identifiseer.

“Ons almal doen soms jobs wat ons nie op ons CV wil sit nie omdat ons nie onsself regtig daarmee wil vereenselwig nie, maar ek kan met 100% eerlikheid sê ek is trots daarop om myself met Woordfees te vereenselwig.”

  • Marais speel nie net ’n belangrike rol agter die skerms nie, maar sal ook te siene wees by die Skrywersprogram waar hy meer sal vertel oor sy poësie. Besonderhede rondom US Woordfees-produksies kan op die Woordfees-webtuiste gevind word.
,