Arno Carstens se optrede kry staande toejuiging

Arno Carstens het ‘n staande toejuiging gekry ná sy Woordfees-vertoning. Hy het Dinsdagaand,  7 Maart, sy vertoning by Woordfees se Bloemkomhoek met ’n ou gunsteling, “Another Universe,” afgeëindig.

’n Hoogtepunt was toe een van Carstens se orkeslede tydens die laaste liedjie deur die gehoor geloop en trompet gespeel het. Die gehoor was op hul voete.

Die meerderheid liedjies wat hy gesing het, was van sy nuwe album, Die Aandblom 13. Dit is sy eerste Afrikaanse album. Liedjies wat hy van dié album gesing het sluit in “Anderkant”, “Chemikalieë” en “Tjoepstil,” wat sy volgende enkelsnit gaan wees. Hy het ook van sy ouer liedjies, “Whole heart” en die Springbok Nude Girls se Blue Eyes gesing. Hy het “Blue Eyes” aan Stellenbosch opgedra.

Carstens was positief na afloop van die optrede. “Dit was baie beter as laasjaar,” het hy gesê.

– Dalaine Krige, Dylan Jack, Marius Boonzaier en Marli van Eeden.

Arno Carstens. FOTO: MARLI VAN EEDEN