Bach, asseblief! Vir jong-komponis Kristi Boonzaaier is metal-musiek die resep vir ’n simfonie.

Sy blonde kuif raak net-net aan die linkerkantste lens van sy reghoekige-raam bril.

“Ek is ’n moerse fan van Iron Maiden,” erken Kristi Boonzaaier.

“Ek dink dit sal nogal cool wees om saam met hulle te werk.”

Hy verwys na die San Fransisco Simfonie-orkes, wat in 1999 die metal-groep Metallica se musiek verwerk, opgeneem en saam met hulle opgetree het.

“Ek luister egter nie meer so baie na [Iron Maiden] of soortgelyke musikante nie,” sê hy. “Deesdae as ek musiek luister is dit vir werk.”

Die musiek waarna Kristi “vir werk” luister verskil baie van Iron Maiden s’n.

“Ek luister obviously baie meer kontemporêre klassieke musiek,” sê hy.

“Ek moet weet wat die ander komponiste van vandag doen,” sê die-24 jarige, wat tans besig is met sy meestersgraad in Komposisie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Kristi Boonzaaier sit op die trappe van Stellenbosch se Konservatorium FOTO: FACEBOOK

Kristi is opgewonde oor ’n komponis waarna hy onlangs begin luister het.

“Sy naam is Jonny Greenwood,” sê hy. “Hy was vir ’n hele ruk ’n komponis by die BBC (Britse Uitsaaikorporasie).”

“Hy skryf great musiek,” sê hy. “Ek dink dis baie uniek en wat hy doen is deesdae skaars in filmmusiek.”

Kristi raak stil.

“As ek dit nie verkeerd het nie…

“Ek wil net gou hier kyk.

“Hy was die guitarist van Radiohead!” roep hy uit. “Hy is actually ’n klassieke kunstenaar.”

Hy lag.

Dié Britse alternatiewe-rock ster, wat die klankbaan vir die Harry Potter and the Goblet of Fire-film gekomponeer het, is ook een van Kristi se gunsteling komponiste.

Achoo!

“Verskoon tog, maar ek het vandag eintlik so bietjie siek geword,” sê hy. “Ek klink so bietjie nasaal.”

Soos Jonny Greenwood, het Kristi ook al musiek vir ’n fliek gekomponeer.

“Ek was verlede jaar die mede-komponis vir Plankekoors,” sê hy. “Dit het by die Silwerskermfees gewys.”

Plankekoors gaan oor verhoogvrees.

“Dit was baie lekker om saam met kykNET te werk.”

Kristi is ook gek oor die Suid-Afrikaanse komponis Hendrik Hofmeyr.

“My ouers het vir my…”

Hy stop.

“Laat ek gou na ’n ander vertrek gaan,” sê hy. “My vrou jaag my uit.

“Sy skryf môre Sielkunde.”

Hy gaan aan met sy aanvanklike sin.

“My ouers het vir my van kleins af klassieke musiek gespeel en dit het my baie beïnvloed,” sê hy.

“Hulle is groot aanhangers van klassieke musiek.”

Dit is egter nie die enigste bron van Kristi se talent en liefde vir sy kuns nie.

Beidie Kristie se ma en pa is musikaal. Musiek is in sy gene.
Volgens ’n studie deur prof. David Hambrick van Michigan State Universiteit in Amerika, is musiektalent oorerflik.

“My ma het klavier tot graad agt by UNISA gespeel,” sê Kristi, wat graad agt in klarinet by UNISA behaal het. “My pa het vir jare lank in kore gesing.”

Dit is juis tydens ’n kooroefening waar sy ouers mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Dieselfde plek waar Kristi en sy vrou, Heidi Schmidt, mekaar ontmoet het.

“Ek en Heidi was saam met die Universiteit Stellenbosch se koor op toer na Latvië,” sê hy. “Ons het daar begin uithang en so paar maande later het ons baie goeie vriende geraak.”

“Nou is ons getroud!” roep hy uit.

Oor ‘n paar maande op 30 November en 1 Desember, sal die Kaapse Filharmoniese Orkes sy landskap-gebaseerde komposisie “’n Aand op Simonsberg” opvoer.

“Dié komposisie is deur Simonsberg geïnspireer,” verduidelik hy.

“Ek en Heidi stap graag.”

Volgens Kristi gaan Suid-Afrikaanse komponiste meer beklemtoning op landskap-gebaseerde komposisies in die toekoms plaas.

Dit is as gevolg van die gesprekke rondom die dekolonialisering van klassieke musiek.

Volgens Kristi hang die toekoms van klassieke musiek in Stellenbosch en Suid-Afrika af van dit wat tydens hierdie gesprekke bespreek word.

“Die meeste klassieke musiek wat ons luister en inspireer, kom van Europese tradisies af,” sê hy.

“Die vraag is of hierdie tradisies en tendense relevant is tot die Suid-Afrikaanse konteks.”

Kristi is egter ’n individualis van aard.

“Ek glo dit maak nie saak van waar die musiek vandaan kom nie,” sê hy. “’n Mens is geregtig tot enige styl of idee wat jy ook al het.”

“Dit is wie jy is,” sê hy. “En jy rol daarmee.

“Ek verstaan egter dat almal nie dieselfde daaroor voel nie.”

Nóg ’n groot kwessie is die stigma rondom klassieke musiek. Kristi glo dat die regte bemarking van klassieke musiekkonserte hierdie stigma kan afbreek en op so ’n manier gehore na die konserte toe lok.

“Mense sê gereeld klassieke musiek is besig om uit te sterf, maar volgens my tesis-navorsing is hulle verkeerd,” sê hy. “My vriende wat musiekkonserte saam met my by die Endler in Stellenbosch gaan kyk, vra die heeltyd wanneer daar weer ’n vertoning is.

“Hulle wil die heeltyd terugkom.”

Volgens Kristi is die regte bemarking ’n goeie manier om nuwe mense na die konserte toe te lok.

“Dit is ’n manier om te cater for a new crowd,” sê hy. “Ons bly in ’n consumerist society, so ons sal ’n aanloklike produk na die tafel toe moet bring.”

Hy verwys na ’n Britse orkes wat video-speletjie-deuntjies in hul repertoire inkorporeer.

“Ek is self ook nou besig om meer in die video game scoring in te gaan,” sê hy. “Ek kan nie ’n video game, wat nie ’n behoorlike soundtrack het, speel nie.”

Hy het vroeër die jaar met ’n paar mense aan klankbane vir video-speletjies begin werk, maar hulle benodig befondsing indien hulle hierdie projek verder wil voer.

“Geld is die grootste challenge,” sê hy. “Ek moes baie hard werk in my voorgraadse kursus om beurse te kry sodat ek vir my studies kan betaal.”

Hoewel befondsing broodnodig is, bly Kristi gefokus op sy passie.

“Dit gaan vir my meer oor die musiek,” sê hy. “Ek is nie ’n groot aanhanger van geld nie, want dit maak mense befoeterd in hulle koppe.”

Hy bly ook positief oor die toekoms.

“Op die oomblik lyk dit asof my loopbaan mooi oopmaak in verskillende plekke,” sê hy.

Kristi is opgewonde.

Hy ly nie aan “plankekoors” nie.

Achoo!

Hy mag dalk net ’n bietjie verkoue hê. Marius Boonzaier

,

Leave a Reply

Your email address will not be published.