Beauty vanuit ’n bokskryt

Goeie boksers is vinnig en vaardig. Hulle het ook die moed en uithouvermoë om te veg, ten spyte van pyn en uitputting. Boks is ’n taktiese sport. Dit gebeur met ’n enkelhou of ’n kombinasie van verskillende houe.

“Ek hou van boks,” vertel sy skamerig. “Ek volg die groot fights en ken die Klitschko-broers se biografieë en ek is mal oor Mohammed Ali.” Sy las egter vinnig by en sê sy hou nie van “stoei of MMA of sulke goed nie. Net skoon, suiwer boks.”

Esther Engelbrecht, kuns- en Engelse onderwyseres in Witrivier, se belangstelling in boks stem dalk meer ooreen met haar grootste talent as wat mens dink. Boks is amper net so ‘n kuns soos om te skilder.

Haar ateljee is effens groter as ’n bokskryt. Dis ’n helder, groot vertrek vol interessante foto’s, kinderkuns, plakkate en boeke. Al is dit besig, is dit baie netjies. Al haar material is netjies gepak en gesorteer en sy kan enigiets raakvat.

Die kunstenaar, Esther Engelbrecht, wie deelgeneem het aan Salesian Life Choices se projek. FOTO: VERSKAF

Sy kan beskryf word as ’n bibliofiel. Sy “slurp interessante feite oor enige onderwerp op en onthou dit vir ’n baie lang tyd”. As ma van twee, is dit moeilik om by alles uit te kom, maar as sy tyd het, lees sy graag. Afgesien daarvan, het sy ook ’n groot versameling kinderboeke wat sy jaarliks aanvul.

“Ek dink ek het in die hemel groot geword,” vertel sy met oë vol lewe deur haar bril. “Ons was ’n gelukkige, groot gesin. Ek is die jongste van ses kinders en ’n laatlammetjie.” Sy onthou Bethal vir die groot wit stapelwolke, blou lug, perskebome en duiwe. Toe demp die opgewondenheid. “Vandag lyk die dorpie treurig, maar in ons tyd was dit een van daai ongelooflike hoëvelddorpies.”

Haar “goue kinderjare” het ’n groot rol gespeel in haar liefde vir kuns. Sy het eers later in haar lewe swaar tye ervaar. Haar ouers is te vroeg oorlede. Sy sou hulle nog lank by haar wou gehad het. Haar ma was ’n musiekonderwyseres en haar pa ’n predikant. “Ek het ’n vreeslike vry, gelukkige kindertyd gehad.”

Esther was nog altyd bewus van die mooiheid in die lewe. Sy het begin skilder omdat sy dit geniet om te skep en om iets te maak wat oor baie meer as net haarself gaan. “Kuns bevat ’n vonk van goddelikheid en op ’n manier bring dit my nader aan bliss,” sê sy.

Dit is wat haar gemotiveer het om aan Salesian Life Choices se projek deel te neem.

“Kuns is soos ’n helende proses. Elke dag maak mens iemand heel.”

Met soveel deernis in haar stem vertel sy hoe baie Natasha Chigamba (die kind waarmee sy in die projek gewerk het) oorkom het in haar lewe. “In ’n tyd wat sy net gelukkig moes wees en beauty moes ervaar het, het sy swaargekry.” Sy het onmiddellik ’n konneksie gevoel met haar en die storie. “En toe ek daardie konneksie voel, was ek boots and all in die projek.”

Die illustrasie wat Esther Engelbrecht vir die boek, 30 stories in 30 days, geskilder het. FOTO: VERSKAF

Sy voel dit is haar verantwoordelikheid as ’n kunstenaar om ’n weerspieëling te gee van die wêreld. “Jy kan ’n ander persoon se siel aanraak en beauty inbring in dit wat jy skep. Dit is die ultimate beauty wat Godgegewe is.”

Dit was vir haar ’n lekker uitdaging om die storie te probeer skilder wat Natasha nié vertel het nie. Sy het Natasha uitgebeeld as ’n kind wat vlieg met goue vlerke om te wys dat sy uitgestyg het bo haar omstandighede.

Sy is nie nét ’n kunsonderwyseres by Uplands Preparatory School nie, maar het ook haar eie onderneming, Mind Matters Arts & Crafts. Sy geniet dit baie om met klein kinders te werk, omdat hulle “meer spontaan en innoverend is en geen inhibisies het nie. Daar is ’n spark van goddelikheid wat jy regtig net in jong kinders kry.” Sy stel nie belang in kommersiële kuns nie en sien haarself meer as iemand wat graag gee.

Esther Engelbrecht saam met haar man, Chris Engelbrecht. FOTO: VERSKAF

Haar vriende ken haar al as iemand wat altyd met ’n gewone kombuisvoorskoot skilder en sy kry gereeld ’n voorskoot as ’n geskenk. “Ek gebruik dit om kwasse skoon te maak of dun te vee vir ’n spesifieke kwashaal of angle. Dis vol verfstrepe wat nooit sal uitwas nie.” Daarmee saam  het sy altyd net rompe of rokke aan, al is dit hóé koud.

Enige kunstenaar het spesifieke maniere hoe hulle geïnspireer word om te skilder. Esther se ateljee word gevul met jazz-klanke, van Cesário Évora tot Keiko Matsui. “En natuurlik skilder ek ook met die occasional glas wyn en groot hoeveelhede koffie,” vertel sy met ’n glimlag. – Martinette Hay