Covid-19 in die klaskamer: Die pandemie se impak op onderwys

Ná meer as ’n jaar van ontwrigting, ondergaan die Suid-Afrikaanse staatskolestelsel steeds voortdurende aanpassings om soveel leerders as moontlik in die skoolbanke te hou. Maar dit is nie bloot die aantal ure in die klaskamer wat tel nie; die kwaliteit van onderrig wat leerders ontvang kan selfs groter – en meer blywende – implikasies in hul lewens hê.


Vir miljoene leerders in Suid-Afrika is hul gewone klaskameraktiwiteite verlede jaar vir ’n wyle deur ’n ander aktiwiteit vervang: Om alleen te sit voor ’n rekenaar of lessenaar. Leerders het wel later teruggekeer skool toe, maar die impak van die ontwrigting gedurende die 2020-skooljaar het blywende gevolge.

pandemie

Die teenwoordigheid van Covid-19 in elke klaskamer landswyd het beteken dat sekere akademiese ervarings vir leerders verlore gegaan het. Mbasa Maqubela, ’n matriekleerder van Paul Roos Gimnasium, meen dat die gebrek aan praktiese klasse en interaksie met onderwysers sy leerervaring tydens inperking beïnvloed het. FOTO: Anri Matthee

Net meer as twee maande voor die eindeksamens vir die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) afskop, het die minister van basiese onderwys Suid-Afrikaners toegespreek oor die stand van sake in die onderwys. Angie Motshekga het op 29 Augustus gepraat oor die impak van die Covid-19-pandemie op die skolestelsel. Sy het ontnugterende statistieke gedeel: 50% tot 75% van leertyd in skole het in 2020 verlore gegaan weens die pandemie.

Ná Motshekga se rede, het Professor Martin Gustafsson, ’n raadgewer vir die Departement van Basiese Onderwys (DBO), bekendgemaak dat die helfte van vanjaar se leertyd ook reeds verlore gegaan het. Die situasie is dus voortslepend, ten spyte van verskeie kalender- en kurrikulum-aanpassings. 

Voldoende leertyd is egter slegs die vertrekpunt van die algehele leerervaring. Die gehalte van onderrig wat leerders tans ontvang, en hoe dit deur die pandemie beïnvloed is, kan die deurslag gee in leerders se vordering na die volgende graad en vir baie jare daarna.

’n Wankelrige begin

Die akademiese basis wat in die grondslagfase vasgelê word, is onontbeerlik vir die res van leerders se skoolloopbane, volgens Professor Michael le Cordeur, die voorsitter van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde.

“By laerskole is lees en skryf die belangrikste,” verduidelik hy. “Kinders wat nie kan lees nie, vaar in alle vakke swak.”

Ten spyte hiervan, moes grondslagfase-leerders in 2020 vir byna vyf maande aaneen by die huis bly. Nadat die inperking in Maart 2020 ingestel is, kon dié groep leerders eers op 24 Augustus verlede jaar weer begin skoolgaan, volgens die 2020-skoolkalender. Hierdie laat terugkeer na die klaskamer het veroorsaak dat sleutelbegrippe nie voldoende vasgelê kon word tydens lesse nie, sê Lerato Makena, die graad een-graadhoof by Laerskool A.F. Louw in Stellenbosch.

Laerskool A.F. Louw se graad een-leerders het ’n opmerklike agterstand gehad toe hulle vanjaar by die skool aangekom het. Volgens Lerato Makena, die graad een-graadhoof, moet onderwysers nou tyd bestee aan die aanleer van basiese vaardighede, soos knip en inkleur, wat eintlik in Graad R bemeester moes word. FOTO: Anri Matthee

Baie sleutelvaardighede in die graad een-kurrikulum moes “oorstaan na die volgende graad”, volgens Makena. Dit is kommerwekkend, aangesien hierdie basiese vaardighede “vir die res van hul skooljare” ’n invloed op leerders se leervermoë sal hê, verduidelik sy.

Hierdie agterstand kan ’n langtermynprobleem word wat vir dekades kan kop uitsteek. ’n Persverklaring van die DBO verduidelik dat ’n onvoldoende akademiese grondslag kan veroorsaak dat leerders vroeg skool verlaat. Dié leerders moet dan vroeër die arbeidsmark betree met ’n laer vlak van opvoeding. Die gebrek aan gehalte onderrig in die grondslagfase beïnvloed dus nie net skoolprestasies nie, maar het ’n “langdurige negatiewe uitwerking” op die samelewing as geheel, volgens die persverklaring.

Vir Makena is dit kommerwekkend dat sy reeds by 2020 se graad een-groep ’n agterstand kon opmerk.

“Die vordering was verskriklik stadig. Leerders kon nie teen die einde van die jaar onafhanklik werk nie,” sê sy. Aangesien leerders ook nie vlot kon lees nie, is leesbegrip dus ook ’n struikelblok in die leerervaring.

In huishoudings waar ouers tydens inperking by die huis beskikbaar was om digitale tuisleer te fasiliteer, lyk die situasie egter anders. Barend Kotzé verduidelik dat sy vrou, Lelécia, op dié manier ’n groot aandeel in hul graad een-dogter se skoolonderrig gehad het.

“Daar is nie enige spesifieke akademiese ontwikkeling wat ons dink ná die pandemie nie na wense is nie,” sê Kotzé oor die ontwikkeling van sy dogter – ’n leerder van Laerskool Overberg in Caledon. “Op dié stadium voel ons nie sy het ’n akademiese agterstand nie.”

’n Sterk afskeid

Die DBO het die gehalte van graad twaalfs se akademie geprioritiseer deur aan te kondig dat dié groep heel eerste kon terugkeer skool toe op 3 Augustus 2020. Dit blyk gevolglik of die pandemie by hierdie groep die minste leerontwrigting veroorsaak het.

“Ek het die 2020-matriekuitslae ontleed en gewys daar was geen noemenswaardige verskil nie,” sê Le Cordeur. “Swak skole het steeds swak presteer en goeie skole was steeds die uitblinkers.”

Om tydens die pandemie ’n matriekleerder te wees, is baie moeilik, sê Khanya Xhegwana van Kayamandi Sekondêre Skool. Haar onderwysers het haar egter aangemoedig om, ten spyte van die uitdagings, haar bes te doen.

“Aangesien ons [weens die pandemie] nie meer gereeld ekstra klasse kon hê nie, het hulle op ons group chats dokumente gestuur wat baie gehelp het,” sê Xhegwana. “Daar was tye waar party van ons wou moed opgee, maar danksy die motivering van ons onderwysers, het ons almal dit reggekry om deur te druk.”

Daar is egter ander struikelblokke wat leerders tans in die gesig staar. Vir Mbasa Maqubela, ’n matriekleerder van Paul Roos Gimnasium, is dit opvallend hoe die aard van klasgee beïnvloed is deur die onsekerheid rondom die onvoorspelbare skoolkalender.

“Nou is ons geneig om vinniger te werk as gewoonlik,” sê Maqubela. “Ek dink die werkslading het in ’n kort rukkie toegeneem.”

Maqubela glo egter dat hy en sy klasmaats ’n “soortgelyke gehalte van onderrig” ontvang as die matriekgroepe vóór hulle. 

“Oor die algemeen het dit my gehelp om van my punte te verbeter, aangesien ek meer tyd gehad het,” sê hy.

pandemie

Hoërskool Stellenbosch het reeds vóór die pandemie aanlyn platforms in hul klasse gebruik, maar nie alle skole het toegang tot sulke digitale infrastruktuur nie. “Ek dink, oor die algemeen, maak [die gebrek aan toegang tot tegnologie] dit baie, baie moeilik om aanlyn klas te gee,” sê Niel Retief, ’n lewenswetenskaponderwyser by Hoërskool Stellenbosch. FOTO: Anri Matthee

Wayne Carpenter, ’n onderwyser by Hoërskool Stellenbosch, het ook opgelet dat sy ingenieursgrafika en -ontwerpleerders beter presteer as voorheen, te danke aan digitale hulpmiddels.

“Ons moet besef dat ons met ’n moderne leerder werk, so die nuwe manier van doen pas hulle beter,” meen Carpenter.

Ten spyte van volgehoue akademiese prestasie, glo Niel Retief, ’n lewenswetenskaponderwyser by Hoërskool Stellenbosch, dat daar wel iets omtrent die gehalte van die leerervaring verlore gaan sonder fisieke teenwoordigheid.

“Ek glo meer leer vind plaas wanneer jy [in die klaskamer] is, want daar is meer interaksie,” sê hy.

Niel Retief, ’n lewenswetenskaponderwyser by Hoërskool Stellenbosch, verduidelik hoe die impak van die pandemie sigbaar was in sy matriekklas van 2020 se akademiese prestasie. OPNAME: Anri Matthee

’n Onsigbare verlies

Onderwysers blyk dit eens te wees dat die gehalte van skoolopvoeding verder strek as blote akademiese prestasie. Deur die afwesigheid van buitemuurse en sosiale geleenthede kan Retief opmerk dat “die kinders se koppies hang”.

“Leerders word nie so holisties soos altyd opgevoed nie,” verduidelik Carpenter.

Die ontwrigting van die daaglikse skoolroetine het “beslis ’n sielkundige invloed op leerders gehad,” meen Wayne Carpenter, ’n onderwyser by Hoërskool Stellenbosch. “Ek dink ons nuwe manier van klasgee kan die introvert nogals pas, maar dit is tot groot frustrasie van die ekstovert,” sê hy. FOTO: Anri Matthee

Ook vir Makena blyk dit of haar graad een-leerders nie meer speeltyd geniet nie.

“Interaksie met hul portuurgroep is belangrik vir hul selfvertroue,” verduidelik Makena.  “Hulle benodig fisiese aanraking met vriende, maar dit kan nie meer gebeur nie.” 

Hierdie ontwrigting affekteer nie net leerders se algehele sosiale ontwikkeling nie, maar het selfs ’n impak op Maqubela se toekomsplanne gehad.

“Ek het beplan om [ná graad 12] rugby te speel en hopelik ’n kontrak los te slaan en ook te studeer,” sê hy. Maar omdat skolesport meestal afgestel is, moet hy nou sy planne heroorweeg.

“Leerders word nie so holisties soos altyd opgevoed nie.”

Leerders se ervarings rondom opvoeding is ook deur hul sosio-ekonomiese agtergronde beïnvloed. Sommige skole, soos Hoërskool Stellenbosch, was “bevoorreg” deurdat die skool vóór die pandemie reeds van digitale platforms gebruik gemaak het en maklik die aanpassing na aanlyn leer kon hanteer, volgens Retief.

“Ek dink nie kwaliteit [van onderrig] het afgegaan by ons nie,” sê hy.

Vir studente wat nie toegang tot elektroniese toestelle en betroubare internet gehad het nie, was aanlyn leer egter onmoontlik. Dié skeiding vergroot sekere leerders se agterstand nóg meer, en die siklus van ongelykheid word verder vererger, volgens Le Cordeur.

Solank Covid-19 ook in die skoolbanke te vinde is, dreig die langtermyngevolge uit Motshekga se toespraak – “’n laer algehele onderrigsvlak en ’n laer inkomste” – steeds vir baie leerders in Suid-Afrika. Daar is egter ook ander aspekte van leerderontwikkeling wat moeiliker is om te meet. Met meer as twee dekades se ondervinding in die onderwys, glo Retief dat ’n leerder se punte nie sy potensiaal weerspieël nie.

Met meer as twee dekades se ondervinding, weet Niel Retief, ’n lewenswetenskaponderwyser by Hoërskool Stellenbosch, dat ’n goeie opvoeding grootliks verband hou met balans en veelsydigheid. “Dis nie net akademie wat sukses gee nie,” sê hy. FOTO: Anri Matthee

“Dis nie net akademie wat sukses gee nie,” sê hy. Daar is leerders wat “dalk nie akademies so sterk is nie, maar jy weet [hulle] gaan dit maak, want daar’s iets in [hulle] wat [hulle] sterk maak”. 

“Dis wie ons wil uitstuur,” sê Retief. “Ons wil mense hê wat vir hulleself kan dink.”

, , , ,