DA wil veiligheid opskerp in Stellenbosch

Die Demokratiese Alliansie (DA) het ’n petisie begin om druk op die regering te plaas om veiligheid in Stellenbosch op te skerp.

Die fokus van die petisie is om meer hulpbronne vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te verkry. Die petisie eis dat meer polisiebeamptes en -voertuie aan Stellenbosch toegeken word. Die petisie stel ook voor dat die satellietpolisiekantoor in Kayamandi opgegradeer word tot ’n volwaardige polisiekantoor.

Die DA gaan Dinsdag ’n petisie aan die SAPD oorhandig om veiiligheid op te skerp. FOTO: Facebook

“Ons het die petisie begin omdat Stellenbosch ’n sagte teiken vir kriminele is. Studente loop gereeld alleen hier rond,” het Tarren Herman, kiesafdeling-beampte vir die DA in Stellenbosch, gesê.

“Daar is Dinsdag, 21 Maart, ’n optog na die polisiekantore in Cloetesville en Stellenbosch om die petisie aan die SAPD te oorhandig,” het Herman gesê.

Sy het ook gesê die misdaadsyfer in Kayamandi neem ersntig toe. Die behoefte het daarom ontstaan dat die polisiekantoor opgegradeer word. Die plan is om meer polisiewaens vir die stasie te gee, asook om ’n stasiebevelvoerder aan te stel.

Herman beklemtoon dat die plaaslike SAPD baie hard werk en dat dié petisie slegs is om hulle te ondersteun en nie om hulle aan te val nie.

“Ek sal die petisie teken aangesien dit nie net fokus op die middedorp van Stellenbosch nie, maar ook ander dele soos Kayamandi en Cloetesville wat dit dalk meer nodig het,” sê Moira Etsebeth, ’n sielkunde-student aan die Universiteit van Stellenbosch. – Martinette Hay