Dagbreek eindig seisoen onoorwonne

Dagbreek manskoshuis het Vrydag die groep-fase van die jaar se Sauer Koshuisrugby-kompetisie onoorwonne afgesluit, nadat hulle kragmeting met Simonsberg afgestel is. Simonsberg het weens ’n tekort aan spelers onttrek en outomaties vyf punte aan Dagbreek besorg. Dit het beteken dat die span van Dagbreek die hele seisoen gespeel het sonder om ’n wedstryd te verloor en daarmee hul plek in die halfeindstryd verseker.

Dagbreek se teenstanders in die halfeindstryd sal Eendrag wees. Die twee spanne het in 2015 ook teen mekaar in die halfeindstryd gespeel met Dagbreek wat die stryd 8-5 gewen het. Dit was ook die jaar wat Dagbreek die Sauer-beker gewen het.

Die senter van Dagbreek, Paul Streicher, is optimisties oor sy span se kanse, maar weet dat daar nog baie werk voorlê.

“Ons het ’n baie goeie groepfase gehad en dit is spesiaal om nie een wedstryd te verloor nie. Ons weet egter dat dit niks sal beteken as ons nie die beker op die ou einde wen nie. Ons het goeie momentum, maar ons probeer om dit maar een wedstryd op ’n slag te vat. Eendrag het ook ’n baie goeie seisoen gehad en ons weet hulle sal sterk teenstanders wees in die halfeindstryd.”

Eendrag se afrigter, GD Duvenhage, wat nie te lank terug nog self vir Eendrag gespeel het, is ook van mening dat sy span probeer om dit as net nog ’n wedstryd te sien.

“Sauer rugby is altyd baie ‘tight’ en ’n mens moet elke wedstryd op jou beste probeer speel. By eindstryde moet jy egter ekstra seker maak en onnodige foute is onaanvaarbaar. Ons het twee jaar terug net-net teen Dagbreek verloor en hoop om hierdie jaar die bordjies te verhang. Dagbreek is ’n baie sterk span en ons weet dit vat baie om hulle te klop.”

Die Sauer het hierdie jaar weereens baie ondersteuners van onderskeie koshuise gelok. Hierdie was tydens die jaarlikse derby tussen Eendrag en Helshoogte. Foto: Maties Rugby

Die Sauer het hierdie jaar weereens baie ondersteuners van onderskeie koshuise gelok. Hierdie was tydens die jaarlikse derby tussen Eendrag en Helshoogte. Foto: Maties Rugby

Die ander halfeindstryd sal deur Huis Marais en Elsenburg gespeel word. Huis Marais, wat die afgelope twee jaar in die finaal gespeel het, het ook ’n redelike suksesvolle seisoen gehad. Hulle het tweede op die punteleër, ses punte agter Dagbreek, geëindig.

Elsenburg het een van hul beste seisoene in onlangse jare gehad en derde op die punteleër geëindig. Met sewe wenne en slegs twee verlore spog die manne van die plaas met ’n sterk rekord die jaar en sal hulle hoop om nog opslae te veroorsaak in halfeindstryd.

Wat die halfeindstryde egter kan bemoeilik, is die feit dat dit eers oor drie weke gaan plaasvind weens BRek-week en Ingenieursweek wat hierdie week plaasvind en die September vakansie wat volgende week. Dit beteken die momentum  kan in enige span se guns wees wanneer die vier spanne 17 September op Danie Craven Stadium veg om ’n plek in die eindstryd. André Huisamen

 

,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.