Damesgroepe steel die kollig by die tweede aand van sêr-uitdunne

Na afloop van die tweede aand van die sêr-uitdunne op 2 Augustus, was die twee dameskoshuise Metanoia Dames en Sonop die gunstelinge as mens oordeel op die gehoor se reaksie.  

Metanoia dames het nes verlede jaar die gehoor aan hul voete gehad met ’n treffende opvoering.  Hulle energie was aansteeklik en hul verhoogteenwoordigheid puik.

“Dit was ’n fees, absoluut ongelooflik!”

So het Carla Smith, ’n Metanoia dames-sêrlid na afloop van hulle optrede gesê.

Smith het bygevoeg dat dit lekker was om musiekliefhebbers te sien bymekaarkom en die aand te geniet.

Sonop het die gehoor laat lag met hul humorsketse tussen liedjies. Hul tema, nuuslesers, het geensins afbreek aan hul musikaliteit gedoen nie. Interessante en komplekse verwerkings is met gemak voorgedra.

“Sonop was beslis die beste, ek is trots om ’n Sonopper te wees,” het Liezl Cloete, ’n tweedejaar Spraak-en Gehoorterapie-student van Sonop dameskoshuis gesê.

Sonop Dameskoshuis. FOTO: Marius Boonzaier

Sonop Dameskoshuis. FOTO: Marius Boonzaier

Die ander koshuise wat opgetree het was Eendrag, Majuba, Metanoia Mans, Lydia en Huis Marais.

Majuba se “Viking” tema was ’n unieke tema wat gesorg het vir baie vermaak.

So ook was die ander optredes genotvol en elke sêrgroep het iets ander tot die verhoog gebring.  ’n Vervelige aand was dit beslis nie.

“’n Totale ‘oor’-gasme!” skerts Reuben Murphy, ’n tweedejaar Drama-student van Helderberg manskoshuis.

Die Endler was soos die vorige aand gepak met geesdriftige toeskouers wat bankvas agter hul gunstelinge gestaan het en hul ondersteuning betoon.  Kleurvolle plakkate was oral te sien en die groepe is met “jazz hands” aangemoedig.

“Ek het baie van Sonop en Huis Marais gehou,” het Jó Havenga, ’n BRek-student oor die aand se optrede gesê.

“Hulle het werklik die aand goed afgesluit.”

Die semi-finaliste word komende Saterdag aangekondig. – Marius Boonzaier, Franco Havenga en Marli van Eeden

Majuba Manskoshuis. FOTO: Franco Havenga

Majuba Manskoshuis. FOTO: Franco Havenga

Huis Marais Manskoshuis. FOTO: Franco Havenga

Huis Marais Manskoshuis. FOTO: Franco Havenga

,