Derde Dalene Matthee film toor binnekort in Knysnabos

Die bekende Afrikaanse roman Toorbos sal eersdaags sy omslag vir die silwerskerm verruil wanneer ’n rolprentspan, onder leiding van gesoute vervaardiger André Scholtz en draaiboekskrywer en regisseur, René van Rooyen, in die Knysnabos kamp opslaan.

Dié roman is deur veteraanskrywer Dalene Matthee, wat is 2005 oorlede is, geskryf. Sy is bekend vir haar bosromans oor die lief en leed van die Knysna-houtkappers en die konflik tussen hulle en die dorpsmense van die Knysna-omgewing.

Haar romans Fiela se kind en Kringe in ’n bos (as Circles in a Forest) is reeds na films verwerk. Toorbos vorm die laaste boek in haar vierledige bosromanreeks, wat Kringe in ’n Bos, Fiela se kind en Moerbeibos insluit.

 

 Dalene Matthee het ’n unieke liefde vir die Knysnabos gehad en verskeie romans geskryf wat daarin en rondom dit afgespeel het. FOTO: dalenematthee.co.za

Dalene Matthee het ’n unieke liefde vir die Knysnabos gehad en verskeie romans geskryf wat daarin en rondom dit afgespeel het. FOTO: dalenematthee.co.za

Toorbos (2003) vertel die verhaal van Karoliena Kapp, ’n jong vrou met ’n buitengewone liefde en verbintenis met die Knysnabos, se soeke na identiteit, aanvaarding en liefde. Hierdie verhouding verander egter vinnig in ’n liefdesdriehoek wanneer sy haar toekomstige man ontmoet en moet kies tussen trou en die lewe van ’n dorpeling of agterbly in haar geliefde bos. Dit speel tydens die 1930’s in die Knysnabos af in die tyd toe die regering houtkappers uit die bos uit wou forseer om op die dorp te gaan woon.

 

Matthee se roman Toorbos wat in 2019 op die silwerskerm as ’n film met dieselfde naam sal verskyn. FOTO: dalenematthee.co.za

Matthee se roman Toorbos wat in 2019 op die silwerskerm as ’n film met dieselfde naam sal verskyn. FOTO: dalenematthee.co.za

 

Die wiele vir die gelyknamige film het begin draai toe ’n kennis van Scholtz, Peet van Rensburg, hom aan Matthee se boek bekendgestel het.

“Na een maal se deurlees, het ek geweet dat hierdie nog ’n Dalene Matthee-wenner is,” vertel Scholtz in ’n persverklaring.

Scholtz, as rolprentvervaardiger, het meer as dertig films en sewe televisiedramas en –komedies op sy kerfstok. Hy het veral bekendheid verwerf as die vervaardiger van die Afrikaanse rolprente ’n Paw Paw vir my darling,  Die Wonderwerker en Meerkat Maantuig.

Die filmvervaardiger André Scholtz wat leiding sal bied tydens die verfilming van Toorbos. FOTO: Verskaf

Die filmvervaardiger André Scholtz wat leiding sal bied tydens die verfilming van Toorbos. FOTO: Verskaf

“Ek glo egter nie almal [van Matthee se boeke] is maklik om te vervaardig nie. Elkeen het sy eie uitdagings. Toorbos, byvoorbeeld, speel af in die 1930’s en dit alleen lewer sy eie uitdagings,” sê Scholtz.

Tog sê Scholtz hy is optimisties oor die potensiaal van die film.

“Om Karoliena ‘lewendig’ te ervaar in die pragtige ‘lewendige’ Knysnabos is ’n wonderlike vooruitsig. Om dan nog die liefdesdriehoek uit te beeld en te ervaar, skep ons ’n ervaring wat ek glo hoogs vermaaklik gaan wees.”

Hy glo ook dat Toorbos as film sal bydra tot die bewaring van Suid-Afrikaanse geskiedenis en die Afrikaanse taal aangesien daar ’n “nuwe generasie [is] wat nog nooit van Dalene se werke ervaar het nie en Toorbos is ’n gepaste opening [hiervoor]”.

Hoewel dit bloot toevallig is, sal dié film in 2019 in dieselfde jaar as Scholtz se 50ste jaar in die vermaaklikheidsbedryf bekendgestel word.

“Dit is altyd vir my ’n voorreg en ’n eer om te probeer om reg te laat geskied aan werke van ons Afrikaanse skrywers soos Chris Barnard se Wonderwerker, P.G. du Plessis se Fees van die Ongenooides en Jeanne Goosen se ’n Paw Paw vir my Darling. Toorbos span egter die kroon.”

Tydens praatjies oor die moontlikheid van só ’n film, het M-Net Scholtz sterk aangeraai om met Van Rooyen kontak te maak. Sy het reeds sedert 2012 aan die draaiboek vir die film begin werk.

“Na ’n gesprek met haar was en is ek in my noppies. Haar talent en passie vir die verhaal is twee uitsonderlike komponente vir ’n suksesvolle projek,” vertel Scholtz.

Van Rooyen, mede-eienaar van Red Letter Day Pictures in Kaapstad, is beroemd vir haar vernuf as draaiboekskrywer en regisseur van Mooirivier en die kykNET Silwerskermfees-film Nantes. Sy was ook die mede-vervaardiger en -draaiboekskrywer van Hollywood in my Huis.

Kort ná Nantes verskyn het, het sy Toorbos gelees en dadelik met Karoliena se verhaal geïdentifiseer.

“Ek het gedink dit is ’n baie interessante storie oor ’n vrou se soeke na identiteit en ook in verhoudings.”

 René van Rooyen het die draaiboek vir Toorbos geskryf en sal ook haar lyf regisseur hou. FOTO: redletterdaypicture.com

René van Rooyen het die draaiboek vir Toorbos geskryf en sal ook haar lyf regisseur hou. FOTO: redletterdaypicture.com

“Dit is interessant om te kyk na vrouens in hulle 20’s en die soeke na identiteit. Dit is omtrent een van die moeilikste fases om getrou te bly aan ons eie uniekheid en op te staan vir waarin jy glo in daardie fase van jou lewe.

“Ek dink baie maal word ’n mens sekere waardes geleer hoe jy moet wees as ’n vrou en binne verhoudings en om regtig ’n verhouding te maak werk moet jy eintlik sterk staan in jouself.”

Van Rooyen vertel dat dit uitdagend was om die roman na ’n draaiboek toe te verwerk, maar glo dat kykers aanklank sal vind by Matthee se werk. Sy sê hoewel Matthee op ’n spesifieke area (die Knysnabos) gefokus het, haar werk met universele temas deurdrenk is. In Toorbos is die soeke na identiteit en die verlies van ’n “outentieke gemeenskap” die oorheersende temas.

Volgens Van Rooyen word daar baie aandag gegee aan die uitbeelding van die boswerkers, magiese realisme en die uitbeelding van die bos as ’n lewendige entiteit.

“Ons gaan omtrent ses assistente hê wat nét gaan werk met die wind en om die bos lewe te gee,” lag Van Rooyen.

“Die film wil vir mense wys, net soos met Karoliena, dat daar ’n rede is hoekom jy moet opstaan vir jou outentieke identiteit en dis iets wat jy kan bydra tot die wêreld as jy net ’n bietjie harder veg daarvoor.”

Hul derde spanlid, Hillary Matthee, Dalene Matthee se dogter, werk ook saam aan die film as raadgewer en navorser.

Die rolverdeling sal na verwagting in die komende week bekendgemaak word.

Verfilming vir Toorbos sal op 21 Mei 2018 in die Knysnabos afskop. Die filmspan word ondersteun deur M-Net, asook Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF), die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en Ster-Kinekor Entertainment.