Die aand behoort aan Meta(-teater)

Die gala aand van dié jaar se Toneelfees (Kuko Theatre Festival) het vyf diverse stukke opgelewer, maar Metanoia het met die louere weggestap.

Die gehoor kon aanvoel dat Dear Mister Fugard deur Metanoia sou wen. Hierdie stuk het die intriges, verwagtinge, en struikelblokke om ʼn bekende teaterstuk op die planke te bring, uitgebeeld.

Boer soek ʼn Vrou, ʼn puik satire van die kykNET trefferprogram, en Size Up, ʼn blik op “body positivity” en gewigsverlies, het mense laat skaterlag. Daarvoor het Boer soek ʼn Vrou tweede plek, en Plus Size derde plek behaal.

Devonecia Swartz en Cantona S. James het die toekennings vir beste aktrise en akteur onderskeidelik verower. Dear Mister Fugard, deur Nane Zietsman, is as die beste oorspronklike teks aangewys.

Die rolverdeling van Dear Mister Fugard deur Metanoia saam met die projekleier, Lehandi Eygelaar, aktrise Elsabé Daneel, en akteur Dean Smith. FOTO: FRANCO HAVENGA

Die tema hierdie jaar is “a touch of laughter”, en dus het komedie die aand gewen.

Die aand is, soos die uitdunrondte, by die Drostdy Teater gehou en ʼn kaartjie is met ʼn glas wyn en vingerhappies vergesel.

Alhoewel party grappies op dowe ore geval het, moes akteurs gereeld wag vir die gehoor om te bedaar, voordat hulle met hul toneelstuk kon aanbeweeg.

“Ek is opgewonde om die nuwe talent te sien wat hierdie jaar oplewer,” het Izak Berg, ʼn honneursstudent in Drama, voor die vertoning gesê. Berg, ook ʼn beoordelaar op die aand, het gesê dit is altyd interessant om vars talent, wat buite die drama departement bestaan, te sien.

Zietsman, wat ook die teks vir Plus Size geskryf het, het oorweldig gevoel nadat sy die beste teks, asook derde- en eerste plek gewen het. “Ek het bietjie uit my diepte gevoel, en ek het ongelooflike verwondering vir mense in die drama departement wat hierdie gereeld aanpak.”

Dit is vir haar lekker om te sien dat daar ʼn passie vir teater is. “Hierdie fees is goeie platform vir studente om sosiale uitsprake te maak en aan die kunste deel te neem,” het Zietsman gesê.

Die lys van wenners is as volg:

Beste aktrise: Devonecia Swartz (Dear Mister Fugard)

Beste akteur: Cantona S. James (Tronk)

Beste teks: Dear Mister Fugard (Metanoia)

Beste regie: Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat (Eendrag, Nemesia & Helderberg)

Beste tegnies: Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat (Eendrag, Nemesia & Helderberg)

Beste ensemble: Boer soek ʼn Vrou (Nemesia & Helderberg)

Beste vroulike byspeler: Carla Smith (Dear Mister Fugard)

Beste manlike byspeler: Franco Bassi (Boer soek ʼn Vrou)

3rde plek: Plus Size (Metanoia & Venustia)

2de plek: Boer soek ʼn Vrou (Nemesia & Helderberg)

1ste plek: Dear Mister Fugard (Metanoia)

– Franco Havenga

,