Die boek wat jy Per Ongeluk moet lees

As jy grootgeword het in ’n Namibiese of Suid-Afrikaanse dorpie op die platteland, Phillip de Vos se gedigte opgesê het by jou provinsiale kunswedstryd, of al jare lank gesukkel het om die “vet gene” in jou familie se DNA te ontsnap, is hierdie ’n boek vir jou.

Lloyd Zandberg se debuut as Afrikaanse skrywer begin met sy eerste boek Per Ongeluk wat vroeër vanjaar gepubliseer is. Die stories van hierdie kanariegeel boek is ’n vars bries tussen die afgesaagde grappies van Casper de Vries en is bietjie minder gewaagd as Schalk Bezuidenhout s’n.

Per Ongeluk is nou landswyd in boekwinkels beskikbaar.

Per Ongeluk is nou landswyd in boekwinkels beskikbaar.

Alhoewel die boek in Suid-Afrika gepubliseer is en die plaaslike lesers definitief daarby sal aanklank vind, is Lloyd eintlik ’n Namibiese skrywer. Die bundel kortverhale gaan oor hoe Lloyd sy kinderdae onthou en hoe hy ander mense analiseer gedurende sy reise deur die land van die brawes.

Daar is verhale oor die rituele van ’n plaaslike matriekafskeid, Lloyd se ervaring by die tandarts, die volmaakte storie van gewig verloor en die streng, maar onnodige reëls oor uniforms op hoërskool.

Die res van die boek, wat in die skryfstyl van ’n liefdeskind tussen Nataniël en Phillip de Vos se werke geskryf is, verduidelik die verdere klein nuanses van die mense wat ons almal al iewers raakgesien het.

Hier en daar is ‘n bietjie Media24 inteks-advertering (die verslaggewer is immers Tafelberg) en die Afrikaanse sinskonstruksies waarvoor Namibieërs so bekend is (’n werkwoord word blykbaar aan die einde van ’n sin gesit).

Steeds is die boek op ’n manier geskryf dat dit voel asof jy die skrywer al lank ken jy voel en mens nie anders kan as om elke nou en dan “hardop te lag in publieke plekke nie” soos wat Schalk Bezuidenhout die boek beskryf nie.

Per Ongeluk is nie goedkoop nie (R234 by Exclusive Books), maar dit is definitief iets om op jou Kersfeeslysie te sit, en boonop sal die treffende boekomslag ook ’n mooi dekorstuk op jou sitkamertafel wees as jy gaste oorkry wat nie te gesellig is nie. – Andeline Wieland

Lloyd Zandberg het sy debuut as skrywer hierdie jaar in Suid-Afrika gemaak. Hy is in 1991 gebore en werk tans as vermaaklikheidsjoernalis by die Republikein in Namibië.

Lloyd Zandberg het sy debuut as skrywer hierdie jaar in Suid-Afrika gemaak. Hy is in 1991 gebore en werk tans as vermaaklikheidsjoernalis by die Republikein in Namibië.

,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.