Dosent, oud-Matie maak skoonskip by UJ-pryse

’n Dosent en ’n voormalige student aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands het vanjaar skoonskip gemaak as die wenners van die UJ-pryse vir oorspronklike Afrikaanse werke.

Dr Willem Anker en Ryan Pedro is op 31 Maart in ’n mediaverklaring deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Kantoor vir Meertalige Taaldienste, as vanjaar se pryswenners vir onderskeidelik die UJ-prys en die UJ-debuutprys aangewys.

UJ-pryse

Dr Willem Anker in sy kantoor in die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands. Hy is vanjaar met sy derde UJ-prys bekroon vir sy 2020-roman Skepsel. FOTO: Anri Matthee

UJ-pryse

Ryan Pedro, wenner van vanjaar se UJ-debuutprys vir sy digbundel pienk ceramic-hondjies (sic), met sy hond Onyx. FOTO: Instagram/@broe_radley

Dié twee pryse word, luidens die verklaring, jaarliks toegeken aan “skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke”.

Anker, wat sy derde UJ-prys vir sy 2020-roman Skepsel ontvang het, het in 2006 kreatiewe skryfwerk aan die US begin doseer. Kort daarna, het hy ook sy Doktorsgraad in literatuur aan die US verwerf. 

Pedro, vanjaar se UJ-debuutpryswenner vir sy digbundel pienk ceramic-hondjies (sic), is tans besig om ’n Magistergraad aan die US te voltooi wat fokus op die konstruksie van skrywers se sosiale en literêre alterego’s.

“Die departement is beslis uiters trots daarop,” het Professor Harold Lesch, voorsitter van dié departement, gesê. “Dit spreek boekdele vir die gehalte werk wat deur die departement gelewer word in ons program vir kreatiewe skryfwerk.”

UJ-pryse

Skepsel en pienk ceramic-hondjies – die twee boeke wat vanjaar se UJ-pryse vir oorspronklike Afrikaanse werke losgeslaan het. FOTO: Anri Matthee

“Die Departement Afrikaans en Nederlands het ’n groot aandeel in my ontwikkeling as skrywer,” het Pedro gesê. Die teorieë wat hy in sy nagraadse studies teëgekom het – veral in postkoloniale letterkunde – het op ’n “baie natuurlike wyse” in sy persoonlike skryfwerk neerslag gevind, het hy gesê.

Ryan Pedro vertel van sy eerste indrukke van Dr Willem Anker en hulle eerste ontmoeting in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. OPNAME: Verskaf/Ryan Pedro

Anker meen dat letterkunde-pryse skrywers aanmoedig om meer te skryf en lesers aanmoedig om meer te lees, aangesien “pryse soos die UJ-pryse as bewys dien dat letterkunde nog waardeer […] word”. Anker hoop ook dat die louere van talentvolle studente soos Pedro, meer studente na die departement sal lok.

“Ten spyte van die uitdagings wat Afrikaans ervaar en dat dit gedurig onder druk kom, is ons ontsettend bly dat ons alumni van die departement steeds in Afrikaans presteer,” het Lesch gesê. 

Pedro reken dat die toekenning van die UJ-pryse opnuut bewys hoeveel moontlikhede binne die Afrikaanse taallandskap bestaan.

“Die feit dat die twee pryswenners uit die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US kom, moet seker íéts sê omtrent ’n opvoeding in Afrikaans?” het hy opgemerk.

Nog ’n dosent aan dié departement, Dr Alfred Schaffer, is ook onlangs met vanjaar se Herman de Coninck-prys vereer vir sy poësie-versameling, Wie was ik.

, , ,