Geen gratis parkering: nóú gaan jy betaal

Asof parkering in Stellenbosch nie reeds ’n kopseer is nie, sal motoriste nou selfs nóg duurder vir parkering moet betaal.  Dit kom nadat parkeertariewe onlangs verhoog is by die buiteparkering oorkant Eikestad Mall sowel as Stelmarksentrum.

“Geen Gratis parkering,” so lui borde by die buiteparkering oorkant Eikestad Mall sowel as die Stelmarksentrum. FOTO: Marius Boonzaier

By beide hierdie parkeerareas, wat volgens kennisgewingborde aan die munisipaliteit behoort, was die eerste halfuur van parkering eers gratis.  Die tariewe is egter onlangs verhoog en motoriste sal nou R4 vir die eerste halfuur moet betaal.

Hoewel die parkering agter die Checkers oorkant die Braak ook munisipale-parkering is, is dié parkering nie deur die verhoogde tariewe geraak nie en is die eerste halfuur steeds gratis.

“Ek het verlede week die parkeertender oorgeneem en ons is besig om oor die parkeertariewe te praat,” sê Bennie Fourie, assistent-superintendent van Stellenbosch se verkeersdepartement.

“Daar was sprake daarvan dat ons weer na die verhoogde parkeertariewe gaan kyk en besluit of dit gangbaar is.”

Fourie het bygevoeg dat hy self nog nie “honderd persent agter die kap van die byl kon kom” rakende die verhoogde tariewe nie.

Fourie het vir MatieMedia aangeraai om met die verkeershoof Lizelle Stroebel te praat aangesien sy volgens hom by die besluit betrokke is of die R4 gehef moet word of nie.

Stroebel het egter gesê dat hierdie besluit deur die raad bepaal word en sy nie inligting oor die besluit kan gee nie.

“Al wat ek weet is vergaderings en goed is gereël en dit moet nog in plek gestel word, so ek kan nie verder inligting gee nie, want ek het nie inligting om te gee nie,” het sy gesê.

Stroebel het bygevoeg dat die raad nog moet vergader en besluit of die verhoogde parkeertariewe gangbaar is of nie.

Stroebel is ook nie seker wanneer die raad wel hieroor gaan vergader nie en het slegs die volgende te sê gehad:  “Ek is nie deel van die raad nie, so ek sal nie dit kan antwoord nie.  Ek het nie die antwoorde nie.”

Volgens Ikaneng Telile, een van die parkeerwagte by Eikestad Mall se buiteparkering, is die R4 verhoging sedert 1 Julie in werking.

Parkeertariewe van die onderskeie parkeertereine in Stellenbosch. Infographic: Marius Boonzaier & Marli van Eeden

Studente en inwoners van Stellenbosch is ongelukkig oor die verhoogde parkeringstariewe aangesien hulle voel die parkering in Stellenbosch reeds duur is.

Dit is veral die studente wat kla oor die verhoging.  Baie studente het voorheen hier parkeer, maar gaan soek nou elders parkering,” het Telile gesê. – Marius Boonzaier en Marli van Eeden

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.