Honde help kinders lees

’n Hond is ’n man se beste vriend.

Vir jare word films soos Lassie, Eight Below, Marley and Me en Beethoven oor en oor in huise gespeel, en elke jaar word daar honde in alle vorms en kleure vir kinders regoor die wêreld gekoop. Maar wat as ’n hond meer as kameraadskap kan bied?

Reg om te luister: Lexi, ’n hond wat vir leesterapie gebruik word, met haar jassie aan wat haar as terapiehond identifiseer. FOTO: Lida Malherbe

Honde word toenemend regoor Suid-Afrika as terapie- en ondersteuningsdiere gebruik. Pets As Therapy (PAT) is ’n Nie-Winsgewende Organisasie wat honde oplei om as terapiediere gebruik te word.

Bretchen van Niekerk, ’n aktiewe PAT-lid van Stellenbosch, sê sy het albei haar honde aan die begin van 2013 as terapiehonde opgelei en geregistreer.

“Jy as die eienaar moet ’n eksamen aflê, waarna jou hond deur ’n dieregedragskenner geëvalueer word. Die diere moet goed wees met mense en rustig wees. Lexi, ons een hond, is baie rustig by die kinders. Die ander een Spice, is te senuweeagtig, en dan is die hele sessie teenproduktief. Dus gebruik ons tans net vir Lexi.”

Van Niekerk se honde word ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees, en so die kind se selfvertroue op te bou.

“Die hond praat nie terug nie, en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.”

Lita de Beer, ’n onderwyseres van Malmesbury wat met diereterapie bekend is, sê dat die verbetering in kinders se leesvermoë as gevolg van die honde so duidelik soos daglig is.

“Sommige is maar ’n bietjie skepties oor die saak, maar sodra hulle aan die honde gewoond raak, dan begin die ontwikkeling. Sodra hul selfvertroue verbeter en hulle meer bereid is om voor mense te lees, begin hulle stelselmatig beter lees.”

Dick Crane, ’n Britse argitek wat ook sy hond as terapiehond laat oplei het, sê dat die honde self ’n groter impak op kinders met gestremdhede het.

“Ek gaan gereeld na tehuise toe waar mense woon wat onder andere met outisme en Downssindroom gediagnoseer is. Die berustende effek wat die hond op hulle het is ongelooflik. ’n Mens sien amper die kalmte voor jou oë op die kind toesak.” – Lida Malherbe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.