Inge Viljoen, volg haar elke MOVE

Suid-Afrikaanse oefen-entoesiaste kan gerus Women’s Health se Next Fitness Star 2017 se elke beweging volg.

Inge Viljoen, (24) persoonlike afrigter van Pretoria, is in Julie as die wenner van die jaarlikse kompetisie aangewys en het, soos dit ’n fiksheid ikoon betaam, nog nie stilgestaan nie.

Inge Viljoen, Women’s Health Next Fitness Star 2017. Foto: Sean Laurenz, Women’s Health

Viljoen se fiksheidsbesigheid Moving Fit het vóór die kompetisie tot stand gekom en is vinnig besig om naam te maak. Daar is ’n groot aanvraag vir haar persoonlike oefenprogramme wat sy spesiaal vir elke kliënt skryf. Gauteng kliënte bereik hul fiksheidsdoelwitte in die gemak van hulle eie huis, aangesien Viljoen tuis individuele afrigting en oefenklasse aanbied.

As dit van Viljoen afhang, is die kompetisie slegs die begin. Moving Fit werf al meer kliënte sedert die kompetisie. Viljoen rig ook Ritmiese Gimnastiek af en bied Cardio Kickboxing klasse by Isa Carstens in Pretoria aan. Viljoen erken dat haar werksure sedert die kompetisie langer geword het.

Viljoen vertel dat haar sosiale media volgeling elke dag groei. “Die blootstelling van Women’s Health is ongelooflik.”

Foto: Sean Laurenz, Women’s Health

’n Hoogtepunt vir haar tot dusvêr is beslis Women’s Health se Fit Night Out in Augustus vanjaar. Hier het die kompetisie Viljoen die geleentheid gebied om ’n aërobiese klas vir 3000 vroue aan te bied.

Die sukses van die afgelope paar maande is natuurlik vir gedrewe, tog beskeie Viljoen nie genoeg nie. “Mense behandel my asof ek ‘n celebrity is, maar ek is nog glad nie daar nie. Dalk oor ’n jaar kan ek myself mooi op die radar plaas.”

Sy vertel dat haar kêrel, Conrad Bezuidenhout, ’n oud-Matie en nou aktuaris in Johannesburg, ook dink dat sy nou ’n bekende is. Sy beskryf hom as haar mentor en was dit nie vir hom nie, sou Moving Fit nooit op die been kom nie.

Viljoen is vasberade dat die sukses van die kompetisie nie met háár sal weghol nie. “Ek het nadat ek as wenner aangekondig was vir myself gesê dat die mense wat nog altyd vir my belangrik was, belangrik vir my gaan bly en dat ek ekstra hard gaan moet werk om niemand af te skeep nie.”

Women’s Health Next Fitness Star se wenpakket sluit ’n verskyning by hul Fit Night Out in. Viljoen het in Augustus ’n klas vir 3000 vroue by Monte Casino in Johannesburg aangebied. Foto: Donovan Thorne

Viljoen is aangewys as handelsmerke onder andere Adidas se ambassadeur vir 2017. Sy verskyn ook in Men’s Health se September uitgawe.

Viljoen glo dit “wys net hoe min vertroue mens plaas in jouself”. MatieMedia is geïnspireer deur die toekomstige fiksheid ikoon en het haar vir nóg Inge-inspirasie gevra:

Inge Viljoen move MatieMedia. Foto: Sean Laurenz, Women’s Health

Jou een eetgewoonte wenk aan MatieMedia?

“Drink gereeld water, as jy voel jy raak honger, drink eers ’n glas water voor jy iets eet.”

Laat ons minder skuldig voel- hoe bederf jy jouself?

“Ek bederf myself met sjokolade of koekies.”

Jou gunsteling fiksheidsaanhaling?

“Find an exercise you enjoy, then get up and do it. It’s as simple as that.”

Wat is vir jou sukses?

“Sukses hoef nie altyd groot te wees soos om iets te wen of so nie. Dit is elke klein ding wat jy gedink het jy gaan nie kan doen nie, waarin jy dan wel slaag.”

Wat is die een ding wat jy jou kliënte wil laat glo?

“Ek wil hê my kliënte moet glo dat hulle alles kan doen waarmee ek hulle uitdaag.”

Wie is jóú fiksheid-inspirasie?

“Ek het te veel fiksheid-inpirasies, maar as ek nou moet dink, was Emily Skye en Kayla Itsines tot dusver die grootstes vir my. Plaaslik, is die wenner van verlede jaar, Mapule Ndhlovu.”

Wat is jou vyf jaar droom vir Moving Fit?

“My 5 jaar droom vir Moving Fit is om die beste persoonlike afrigter in Gauteng te wees wat nie net my kliënte inspireer nie, maar soveel meer. Ek wil graag op die voorblad van ’n tydskrif wees!”

Hoe sal jy jouself beskryf in drie woorde?

“Positief, gedrewe en avontuurlustig.”

Volg haar elke move op Instagram: @ingeviljoen @movingfit

, ,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.