Is Rotas spyt oor besluit om Maak My Famous te verlaat?

Die Maak My Famous-kletsrymer, Rodney ‘Rotas’ Goliath, wonder soms steeds wat sou gebeur het as hy nié besluit het om die program te verlaat nie. Rotas het op 27 Mei besluit om die program te verlaat en eerder op sy studies te fokus. 

Hierdie besluit kom nadat Rotas die top-10 behaal het, maar besef het dat die program hewig bots met sy opvoeding. Rotas is tans ’n eerstejaarstudent in BA Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hier tree Rotas sy twee oorspronklike liedjies, ‘Dankie vir die Pyn’ en ‘My Mense’ op die Maak My Famous-verhoog by die Roxy Revue Bar te Grandwest op. FOTO’S: Verskaf/Maak My Famous.

Hier tree Rotas sy twee oorspronklike liedjies, ‘Dankie vir die Pyn’ en ‘My Mense’ op die Maak My Famous-verhoog by die Roxy Revue Bar te Grandwest op. FOTO’S: Verskaf/Maak My Famous.

Aan die einde van die vyfde episode op 27 Mei, is die top-10 die kans gegun om te kies om aan te gaan met die kompetisie óf om R20 000 te aanvaar en hul plek prys te gee. Rotas het besluit om die geld te vat.

“Daar was baie druk op my,” het hy aan MatieMedia gesê. “Ek is op ’n beurs en as ons geskiet het, het ek soms tot drie dae se klas gemis. Ek was heeltyd deurmekaar.”

Rotas word deur Emo Adams gevra tydens episode vyf se Geld óf Geleentheid-afdeling, of hy die geld gaan vat of verder wil vorder in die kompetisie. Reggie B het sy plek ingeneem in die top-10 toe Rotas besluit om die kompetisie te verlaat. VIDEO: Youtube/Maak My Famous.

Rotas het vertel dat hy nogsteeds soms wonder oor wat sou gebeur het as hy verder sou gaan met die kompetisie.

“Die gedagtes maal soms nog in my kop, want ek is tog net mens,” het hy gesê. “Maar ek glo ek het die regte besluit geneem, want ek sou my eksamens en die live shows, wat nou gaan opkom, tergelykertyd moes doen. Dit sou moeilik gewees het.”

Rotas het vertel dat ’n universiteitsgraad een van sy grootste drome is.

‘Dankie vir die pyn’, Rotas se eerste optrede in episode vier van seisoen twee, het al meer as 250 000 kyke op YouTube en is Maak My Famous seisoen twee se mees gekykte video op YouTube. VIDEO: Youtube/Maak My Famous.

“My ouma het nie hoërskool gesien nie,” het hy gesê. “My suster en pa het nie universiteit toe gegaan nie. My ma kon nie universiteit voltooi nie. Ek het selfs niggies en nefies wat glad nie eers meer skool gaan nie,” het hy gesê.

Rotas sê egter dat die tyd vir terugkyk verby is en dat hy reeds fantastiese geleenthede gekry het sedert hy die program verlaat het.

“Ek het saam met Emo en Loukmaan Adams in hul Vadersdag aanlyn-vertoning, Father Love, opgetree,” het hy gesê. “Om die verhoog met mense te kon deel na wie ek opkyk was awesome. Ek voel regtig geseënd.”

Rotas The Rapper se oorspronklike liedjie ‘My Mense’ is ook een van die gewildste liedjies van die seisoen. Dit het selfs meer as 205 000 kyke op YouTube. Met hierdie liedjie het Rotas sy teenstander in die Groepe en Rymklets-kategorie, Reggie B, geklop en sodoende deurgedring na die top-10. VIDEO: YouTube/Maak My Famous.

Emo Adams, aanbieder van Maak My Famous, het aan MatieMedia gesê Rotas het diep in kykers se harte gekruip, omdat hulle hulself met sy liedjies kon identifiseer.

“Wat [Rotas] uniek maak is dat hy alle aspekte van sy lewe gebruik om sy stories te vertel,” het Adams gesê. “Baie mense vind dit moeilik om só kwesbaar te wees. Mense is geraak daardeur, want die persoon oor wie hy rap is óf hulself óf iemand in die gemeenskap wie hulle ken.”

Emo Adams vertel hoe hy voel oor Rodney se besluit en brei ook uit oor sy professionele loopbaan. KLANKGREEP: Verskaf/Emo Adams.

Rotas se ma, Louise Goliath, het gesê dat sy  trots is op haar seun, omdat sy besluit baie volwasse was.

“Hy het nie gedink aan famous wees nie. Hy het gedink aan sy toekoms en die feit dat hy eers graag ’n graad agter sy naam wil hê,” het Goliath gesê.

Rotas het saam met Emo Adams, sy broer Loukmaan Adams en hul pa, Omar Adams opgetree in Emo se Vadersdag aanlyn-vertoning, Father Love. Daar was ook twee ander Maak My Famous talente in die vertoning: Jesmoné Damonse en Cheswyn Ruiters, wat die eerste seisoen van Maak My Famous gewen het. Dié vertoning is op 21 Junie uitgesaai. VIDEO: Verskaf/All Star Entertainment.

Venesia Palmer, ’n aanhanger van Rotas, sê dat sy hom verskriklik gaan mis op Maak My Famous.

“Elke optrede van hom het my in trane gehad, maar dit is reg dat hy sy opvoeding eerste stel,” het Palmer gesê.

, ,