Koeksisterfees ’n sukses

Ná ’n stadige begin het die Koeksisterfees gou vlamgevat. Die fees, wat Saterdag 4 Maart plaasgevind het, was vanjaar deel van die Woordfees-program.

Die fees het ’n uur laat begin omdat die vorige vertoning langer aangehou het.  Die gaste was egter min gepla, aangesien hulle solank agteroor kon sit, ’n drankie kon geniet en aan heerlike kos gesmul het.

Die groepe wat opgetree het, was Sunset Sweatshop, The Young Folks, Dum-Chang en Al Bairre.  

Daar was ’n heerlike atmosfeer. Hoewel daar eers min mense was, het die gehoor gou opgetel teen die tyd wat Dum-Chang opgetree het.

Todd Bauermeister van Dum-Chang het gesê dit was een van die beste gehore nog voor wie hulle opgetree het.

Lize-Mari Vivian, ’n Stellenbosch alumna, het opgewonde gesê: “Ek is hier vir een groep en dit is Dum-Chang.”

Patrick Hughes‚ ’n B.Com-honneursstudent, het gesê: “Ek het Dum-Chang se verskeidenheid van moderne rockmusiek geniet en hul dromspeler is die beste wat ek al ooit gesien het.”

Nadat die nuus onlangs gebreek het dat die groep Al Bairre gaan opbreek, was die gehoor opgewonde om hulle vir die naaslaaste keer te sien optree.  Die gehoor het skielik gegroei met hulle optrede.  Ten spyte van tegniese probleme, het Al Bairre ’n onvergeetlike vertoning gelewer en die gehoor in ekstase gehad.  Hulle het die vertoning afgeëindig met hul liedjie We Move On.  Die gehoor kon nie genoeg kry nie en hulle is teruggeroep om nog twee liedjies te sing.

Die organiseerders, Mari Fölscher (Nemesia), Inge Greyling (Serruria) en Anna van Rooyen (Erica), was positief na afloop van die fees.

“Ek was so opgewonde om my gunsteling-kunstenaars te sien optree,” het Fölscher gesê.

Die organiseerders is bly dat die fees deel gevorm het van die Woordfees en hulle dus die platform gegun is om die fees aan ’n groter gehoor bekend te stel. Dit is die tweede jaar wat die fees plaasvind en die organiseerders is seker dat dit van hier af net nóg groter sal wees.

Koeksisterfees is ‘n jaarlikse musiekfees wat deur Erica, Nemesia en Serruria, die “drie suster”-koshuise gehou word; vandaar die naam Koeksisterfees. – Marli van Eeden, Andrea Kohrs en Marsha Leitch

Al Bairre

 

,