Kuierplekke verskerp rook-reëls

Kuierplekke in Stellenbosch gaan nie meer lank wegkom daarmee om die rookwet openlik te minag nie.

Die nasionale rookbeleid is nooit behoorlik toegepas by talle kroeë, dansklubs en restaurante in die Eikestad nie, maar ná tallee klagtes gaan die reëls nou verskerp word.

NuBar, Bohemia en Craft Wheat and Hops is reeds besig om die beleid strenger toe te pas.

“’n Gesondheidsinspekteur het ons kom besoek, waarna die restaurant heeltemal rookvry geword het,” sê ‘n kelnerin van Craft Wheat and Hops.

Rook word ook glad nie meer by hul buitelug-area toegelaat nie. “Indien kliënte wil rook, moet hulle in die pad gaan staan,” sê sy.

Craft is nie die enigste restaurant waar rokers pad se kant toe moet staan nie.

Hoewel daar in Bohemia ‘n aangewese rookarea is, word niemand meer toegelaat om op die stoep te rook nie.
Dit kom nadat ‘n groep studente se sigaretrook ‘n ander groep langsaan gepla het. Die nie-rokende studente het kapsie gemaak en ‘n klag ingedien.

“Die mense het by die ‘wet’ gaan kla en ons moes die nuwe reëls instel” sê ‘n Bohemia-kelner.

Hy twyfel egter of dié reëls ‘n verskil gaan maak. “Ek verstaan nie hoekom ‘n mens nie op die stoep, maar wel van die perseel af, mag rook nie. Die rook sal in elk geval na die stoep toe waai.”

‘n Oud-Matie, André Laäs, stem saam.

Daar is ook studente wat bly is oor die strenger rookbeleid.

“Ek glo dis goed dat rokers tot sekere plekke beperk word. Dit verooraak dat mense wat nie rook nie, nie verontrief word daardeur nie,” sê Heino Gouws, ‘n honneurs-student in Sportwetenskap.

Jana Lubbe, onder-primaria van Aristea PSO, het gesê NuBar dansklub het ook strenger rook-reëls ingestel. Mense mag nie meer in die klub rook nie, maar moet buite langs die pad staan.

“Ek dink dis ‘n goeie ding,” sê sy. “Daar is amper geen ventilasie nie, dis klaar bedompig en die rook jaag mense weg.”

Die Wet op die Beheer van Tabak behels dat niemand by ‘n deels-bedekte openbare area of onderdak mag rook nie. ‘n Eienaar kan ‘n boete van tot R50 000 ontvang indien die restaurant of kroeg nie die reëls nakom nie.

Foto-opskrif: Man sit en rook by ‘n kuierplek. FOTO: WIKI COMMONS

,