Loki en Laurika herskep klassieke treffers

Laurika Rauch en Loki Rothman het Saterdagaand, 11 Maart, by die uitverkoopte Spier Amfiteater die gehoor beïndruk met nuutverwerkte weergawes van Rauch se treffers.

Hoewel Rothman al met ander kunstenaars soos Die Antwoord, Jack Parow en Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties gewerk het, is sy optrede saam met Rauch definitief ’n hupstoot vir sy loopbaan. Hy het die kollig by Rauch gesteel met hierdie vertoning, maar sy het dit vir hom gegun.

Rothman besit meer as 32 snaarinstrumente en kan almal speel. “My niche is eintlik om ’n one-man band te wees,” het Rothman gesê. Hy speel vyf dele gelyk op die kitaar – van die wysie tot die perkussie.

Laurika Rauch en Loki Rothman tydens hulle vertoning by die Spier Amfiteater. FOTO: ANDELINE WIELAND

 

“Ek het ’n YouTube-kanaal begin, en toe stuur ek vir Laurika ’n e-pos met die hoop dat sy saam met my ’n liedjie sou cover,” het Rothman vertel.

Rauch het vertel: “Ek het na ’n rukkie teruggeskryf dat ek beslis nie op sy YouTube kanaal wou verskyn nie, maar dat ek definitief saam met hom ’n liedjie sou opneem. Toe verwerk hy ‘Blou’ wat verlede week die nommer een liedjie op GrootFM was.”

Nie nét het hulle vir ou treffers ’n nuwe baadjie aangetrek nie, maar Laurika is ook ’n heeltemal ander mens op die verhoog. Sy het selfs ’n bietjie gedans op die ritme van “Krisjan Swart” en die gehoor laat lag vir haar goeie vertolking van die lirieke.


Ander liedjies wat deel was van die program, sluit in: “Blouberg se strand”, “Bly nog so bietjie”, “Die nostalgie”, “Lisa se klavier”, en “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. Hulle het afgesluit met die Afrikaanse liedjie van die eeu, “Kinders van die wind”. – 
Martinette Hay and Andeline Wieland