’n Pen wat vir niks verkeerd staan nie

Diepteverslaggewer en vryskut-vervaardiger Jana Marx het ’n eiesoortige reis in die nuusbedryf gehad. Sy het met Kara Olivier gesels oor die vele baadjies wat joernaliste deesdae in dié bedryf moet dra.

Marx

Jana Marx werk tans as ’n diepteverslaggewer en vryskut-vervaardiger vir die aktualiteitsprogram, Carte Blanche. FOTO: Verskaf/Jana Marx

Die nuusgogga het Jana Marx vroeg reeds gebyt. 

“Ek het nog altyd vrae gevra. Ek wou nog altyd weet hoekom dinge werk soos hulle werk. Ek wou nog altyd goed verstaan. En dit is presies wat jy moet doen in diepteverslaggewing,” sê Marx. 

Marx meen sy is gebore met ’n sin vir geregtigheid. “Ek kan nie net okay wees dat iemand geld steel of kwaad doen nie,” sê sy. “Ek wil weet hoekom doen hulle dit. Wie het hulle mislei? Hoe kan ons hulle stop?” 

“Ek voel deur te skryf kan ek geregtigheid bring vir die mense wat gely het onder hierdie persoon, hierdie voorval, hierdie gebeurtenis.” 

Marx se liefde vir woorde het ’n prominente rol in haar tienerjare gespeel. Tydens haar hoërskoolloopbaan het sy as ’n joernalis en later redakteur vir die Hoër Meisieskool Oranje se skoolkoerant gedien. 

Sy beskryf een van haar skole-redaksiespan se eerste uitlegplanne. Die uitleg is vasgelê in potlood op blokkiespapier, wêrelde verwyder van die tegnologie-gedrewe, bedrywige mediabedryf waarin sy haarself tans bevind. 

Op dié uitlegplanne verskyn Marx by die opskrif: ‘Meneer Richter onder die vergrootglas’. ’n Mens kan bespiegel oor die inhoud van ’n artikel met só ’n titel. “Dit is waar ek liefgeraak het vir joernalistiek en stories skryf,” vertel Marx.

’n Kop vir elke storie

Marx se pad tot in die nuusbedryf was tot dusver alles behalwe gewoon. 

“Ek het in my eerste jaar wel media-joernalistiek studeer [aan die Universiteit van die Vrystaat], maar toe ek in ’n klas met 350 mense sit en ek besef hoe klein die industrie is, toe raak ek ’n bietjie bekommerd. Ek het daar besluit om iets te doen wat my onderskei,” sê Marx.

In 2009 het sy haar nis gevind. “Ek het teologie begin swot met die idee dat ek kerknuus wou skryf. Dit is iets wat skaars is en waarin ek belangstel,” noem Marx. 

Marx het haar graad in teologie en sielkunde in 2013 voltooi en op ’n vryskutbasis kerkverwante inhoud begin skryf. 

Sy is in 2015 as handelsmerkredakteur by Finesse-tydskrif aangestel en twee jaar later het sy teruggekeer na die nuuskantoor toe sy by Netwerk24 as ’n nuus- en hofverslaggewer aangesluit het. 

As die nuusgogga jou eers gebyt het, is dit ’n ding wat jou aanhou intrek. Dis soos ’n monster wat jy aanhou voer.

“Dis maar ’n voorkeur. Jy besluit maar waarvan jy hou,” sê Marx. “Daar is mense wat uitgeknipte tydskrifjoernaliste is, maar ek het op daai stadium gevoel ek wil graag weer nuus doen. As die nuusgogga jou eers gebyt het, is dit ’n ding wat jou aanhou intrek. Dis soos ’n monster wat jy aanhou voer.” 

Op die duiwel se spoor

Dit is gedure Marx se tyd by Beeld en Netwerk24 dat ’n storie op haar tafel beland het wat haar loopbaan sou definieer. Die tipe storie waarvan diepteverslaggewers droom. 

Die ware misdaadriller Afspraak met moord – In die Kake van die Krugersdorp-kultus is Marx se debuut. Dié boek vertel die storie van die elf grusame moorde wat oor ’n tydperk van vier jaar in die Krugersdorp-omgewing gepleeg is. Die storie het destyds nasionale koerantvoorblaaie oorheers. 

marx

Diepteverslaggewer en vryskut-vervaardiger Jana Marx het in 2020 bekendheid verwerf vir haar debuut, Afspraak met moord – In die Kake van die Krugersdorp-kultus. In 2021 het Showmax Originals die dokumentêre reeks Devilsdorp bekendgestel. Die boek en reeks is gebasseer op die ware verhaal van die sogenaamde Krugersdorp-moorde. FOTO: Kara Olivier

Die publiek se reaksie op Marx se boek het haar onkant gevang. “Ek was self verbaas oor die reaksie. Ek het geweet die storie is bisar, maar dit is ’n storie wat vertel moes word.” 

Haar interaksies met die slagoffers se families en naastes gedurende die hofsaak staan vir Marx die meeste uit. 

Sy sê die familie van die slagoffers het haar “100% vertrou” om die regte storie weer te gee en om reg te laat geskied aan die slagoffers. 

“Dit is nogal ’n groot verantwoordelikheid op ’n mens,” sê Marx. “Mense moet verstaan wat daar gebeur het en hoe ernstig dit was, maar daar was vir my iets daarin om die storie smaakvol weer te gee. My boek word gebêre vir die kinders wat ouers verloor het [sodat hulle] later die regte storie kan lees.”

“Die boek en dokumentêr [Devilsdorp] het op mekaar gevolg en toe proe ek weer aan ’n ander tipe joernalistiek,” vertel Marx. Marx was ook die verhaler van die Devilsdorp-dokumentêre wat gebaseer is op die boek. Die reeks het groot sukses behaal sedert dit in 2021 op Showmax bekendgestel is. 

TV is an animal all on it’s own”  

Marx werk tans as ’n vryskutjoernalis en doen vervaardigingswerk vir Carte Blanche. “Jy kan meer kreatief wees met hoe jy ’n storie vertel, want jy het verskillende maniere en verskillende mediums op een platform,” sê Marx. 

Volgens Marx is tv-vervaardiging die ander kant van die muntstuk. “Dieselfde beginsels geld,” sê sy. Die basiese joernalistieke beginsels bly dieselfde, ongeag waar in die mediabedryf jy jouself bevind, verduidelik sy. 

Nuuskantore is onder finansiële druk, sê Marx. Sy sê grootskaalse afdankings in die bedryf het meegebring dat daar tans baie vryskutjoernaliste is. “Dit is natuurlik vir maatskappye baie makliker om dit so te doen. Hulle het dan minder verpligtinge teenoor joernaliste,” meen sy. 

Sy bly egter optimisties oor die toekoms van vryskutjoernalistiek. “Dit is beslis ’n uitdaging, maar daar is ook ’n reeks voordele,” sê Marx. Sy verduidelik dat dit haar vrywaar om vir meer as een publikasie gelyktydig te werk.

Sy voorspel ’n digitale toekoms vir die media bedryf. “ ’n Mens raak al hoe meer gewoond daaraan om jou nuus op ’n selfoon of skootrekenaar te lees. Ons is totaal besig met ’n digitale-oorgang. Nie net in Suid Afrika nie, maar ook wêreldwyd,” sê Marx.

“Ek is nou al lank in die bedryf. Ek is nou al deur verskillende vorms van media. Nou begin ek amper weer voor,” sê Marx. 

In ’n bedryf wat voortdurend besig is om te verander, is dit belangrik om te “admit wat jy nie weet nie”, sê sy. 

“Dit is wat joernalistiek so powerful maak; Jy hou nooit op leer nie. Dis wat dit so fun maak. Dis ’n dinamiese dier wat aanhou verander. En jy moet oop wees om saam met dit te verander.”

Marx

Diepteverslaggewer en vryskut-vervaardiger, Jana Marx gee haar raad aan jong joernaliste in die nuusbedryf. GRAFIEK: Kara Olivier

, ,