’n Vars Pop-Up van Suid-Afrikaans

Met Simonsig se Kaapse Vonkel in die hand, kon enigeen Vrydag 29 September in Stellenbosch die vooruitgang van vroue-entrepreneurs en eg Suid-Afrikaanse produkte vier.

Spring Pop-Up. FOTO: Lida Malherbe

Volgens die organiseerder van die Spring Pop-Up, Roelien Lightbody van Stellenbosch, kry sy om en by elke twee maande ’n groep vroue-entrepreneurs en -ontwerpers bymekaar om hulle handgemaakte produkte – van juwele en klere tot skoonheidsprodukte – ten toon te stel en hulle besighede te bemark.

“Die pop-ups word gekenmerk deur estetiese spaces en vroue wat mekaar ondersteun in die besigheidswêreld.”

Al die produkte wat by die pop-up uitgestal is, is eg Suid-Afrikaans – dit wil sê dit is deur Suid-Afrikaners ontwerp en vervaardig, vanaf produkte wat plaaslik beskikbaar is.

Roxanne van Rooyen, een van die ontwerpers van EnvyMe gehekelde-produkte, sê dat hulle die besigheid gebruik om werk vir Suid-Afrikaanse vroue te skep.

“Die main lady wat ons produkte maak lei ander vroue op om vir ons te kan werk, so alles is local labour. Almal werk van haar huis af, nadat hulle opgelei is.”

“Baie mense vra hoekom ons nie gewone lycra-bikinis ook maak nie. Die rede is eintlik net dat ons regtig trots Suid-Afrikaans is, en dis moeilik om lycra in Suid-Afrika te vind. Ons wil nie eintlik invoer nie.”

Anel van der Merwe, die ontwerper van Alexa Lily se dagboeklyn, sê die rede hoekom klein besighede soos die wat by die pop-up ten toon gestel word suksesvol is, is omdat die produkte op funksionaliteit gefokus is.

“Ons fokus regtig op kwaliteit en dat alles ’n funksie moet hê. Alles is daar vir ’n rede. By Alexa Lily is dit amper ons core value. As daar byvoorbeeld ’n klein sakkie in jou handsak is, moet hy daar wees vir ’n spesifieke doel.”

Volgens Estelle de Wet van die deWieff-klerehandelsmerk, het die belangstelling in handgemaakte produkte skerp gestyg as gevolg van mense se soeke na individualiteit.

“Mense soek items wat hulle in die winkel sou kon kry, omdat dit in die mode is, maar nie in die winkel kan kry nie, omdat daar net ’n klein hoeveelheid gemaak is.”

Carle Latsky van MovePretty-sportklere sê dat hulle handelsmerk daarop gerig is om vroue selfvertroue te gee.

“Dit cater vir almal, maak nie saak hoe jy lyk of waarvan jy hou nie. Ons probeer vir alle vroue sê dit ‘maak nie saak hoe jy lyk nie, jy is welkom hier’. Ons somerreeks-temas op die oomblik is ‘Love Africa’ – so baie bold prints en helder kleure.”

Die meeste van die besighede doen hulle bemarking slegs op sosiale media en hul produkte is meestal aanlyn beskikbaar. Latsky sê dat die pop-up daar is vir mense om die produkte in lewende lywe kan sien, voel en aanpas, sodat hulle genoeg vertroue in die handelsmerk kan hê om aanlyn te koop. – Lida Malherbe en Tania Heyns

September Spring Pop-Up:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.