Nuwe dranklisensie laat fliekgangers toe om weer drank by Pulp Cinema te koop

Fliekgangers na Pulp Cinema in die Neelsie kan weer alkohol saam met ’n fliek geniet nadat die teater twee jaar lank drankverkope moes afskaf.

Dit kom nadat die fliekteater in die studentesentrum aan die einde van verlede jaar ’n nuwe dranklisensie gekry het.


Die lisensie laat slegs toe dat wyn en bier verkoop word. Hardehout soos whisky wat voorheen te koop was, sal nie meer verkoop word nie.

Bier en wyn word weer by Pulp Cinema in die Neelsie verkoop. FOTO: Marius Boonzaier

Dit blyk dat gereelde fliekgangers en veral studente bly is dat drankverkope weer by die teater toegelaat word.

“Ek is baie opgewonde,” het Carla Smith, ’n dramastudent en gretige Pulp-fliekganger gesê.


“Ek was ontsteld dat [die verkope van alkohol] weggevat is, want wat is beter saam met ’n goeie fliek as ’n lekker glasie wyn?”  het Chanté Brand, ’n M-student in Biochemie, gesê.


Volgens Pulp se bestuurder, Werner de Swart het hul kliëntebasis toegeneem sedert die teater wyn en bier kan verkoop. Hy is egter nog nie seker of dit die rede vir die toename is nie.


Volgens de Swart is sowat 10 persent van Pulp se opbrengs tans te danke aan drankverkope. Dit is 15 persent minder as die jare voordat hulle die lisensie verloor het.


Hy glo egter dat verkope teen die einde van die jaar sal styg as mense daarvan hoor. – Marius Boonzaier

, ,