Phillipi se eie Moeder Owerste

Dis soos rooiwyn, jy moet ’n voorkeur daarvoor ontwikkel, want dit val beslis nie in almal se smaak nie. Jy leer daarvan hou. Koos Kombuis beskryf dit as ’n “ontploffing van vreemde klanke, hartverskeurende patos en intellektuele uitdagings”.

Sit maar gerus jou vooropgestelde idees van wat opera is of kan wees of behoort te wees weg, want dié krulkopvrou van Phillipi mág maar sing.

Janelle Visagie vertel met ’n vonkel in haar blou oë dat sy nie opera gekies het nie. “Dit het my gekies!”

“My eerste ondervinding met operamusiek was toe ek as kind op die balkon in die Kunstekaap-teater gesit en Sound of Music gekyk het,” vertel sy. “Ek het nooit gedink ek self sou opera sing nie, al het ek kleintyd met ’n haarborsel voor die spieël gesing.”

’n Paar jaar later vertolk sy self die rol van Moeder Owerste in die musiekspel oor die Von Trapp-familie.

Verskeie resensente, onder andere Schalk Schoombee beskryf haar as die kragtigste sanger in dié produksie. “Sy lewer onvergeetlike oomblikke en sy het ’n formidabele en empatiese teenwoordigheid,” het hy geskryf.

Sy sien baie van haarself in die karakter. “Ek dink ek is ’n ou siel. Ek het aanklank gevind by die wyse, raadgewende, aanmoedigende rol. En bowendien, ek was op die leerderraad en Moeder Owerste is mos die baas van die plaas.”

Sy het nooit haar oog op die rol van Moeder Owerste gehad nie, maar eerder die rol van Maria Rainer, ’n singende non wat vreugde in die alledaagse vind. Haar stem was egter te donker vir die rol. Haar stem word in operataal beskryf as lyrico spinto.  Dit is ’n liriese stem met ’n dramatiese kwaliteit, wat perfek werk vir ander rolle wat sy al vertolk het, soos Puccini se Madama Butterfly. “Dankie tog ek het nie die rol van Maria gekry nie, sy hardloop heeltyd op die verhoog rond,” vertel sy laggend.

Die aktrise wat die rol van Maria vertolk, Bethany Dickson, “is baie na aan my hart en sy is ’n ongelooflike ondersteunende aktrise,” sê Janelle. Dit is vir haar lekker om die moederlike rol te uit te beeld.

Sy het op ’n plaas naby Lutzville, ’n klein dorpie in Namakwaland, groot geword. Sy raak nostalgies as sy vertel van haar kinderdae. “Ek het vakansies altyd ’n klein projekkie gehad waaraan ek gewerk het, soos om ’n huisie of iets te bou. Ons het ver gaan fietsry en tennis gespeel in die Junie-vakansies, omdat Wimbledon op die televisie was.” In dié dorpie het sy by elke basaar en skoolkonsert gesing en dit is waar haar liefde vir musiek begin het.

Janelle Visagie wie die rol van Moeder Owerstel vertolk in Sound of Music in produksies regoor die land. FOTO: Facebook

Opera is ’n “baie klein dammetjie met baie visse,” vertel Janelle. Sy het nog altyd geweet daar is nie baie werk nie, want dit is ’n eksklusiewe kuns. Sy bly vashou aan hoop. “Daar moet hoop wees, want as jy dit verloor, kan jy maar net sowel langs die straat gaan bedel. Dit is wel moeilik om aan te hou hoop as dit sleg gaan en jy nie kan sien hoe jy oor drie maande jou kar gaan betaal nie,” vertel sy.

“Dis nie vir sissies nie. Die Here weet beter en dit is hoe ek by opera uitgekom het. Dis miskien nie altyd goed om te kry wat jy wil hê nie,” sê sy met ’n hoopvolle glimlag.

Sy het vir vyf jaar in die Stellenbosch Universiteitskoor gesing. “Ek het dit geweldig geniet – die vriende en die tipe musiek,” vertel sy. Sy het toe nog nie opera gesing nie, want sy was te jonk.

Dit is gevaarlik vir ’n klassieke sanger om iets te sing wat te swaar is vir sy/haar stem, want dit kan baie skade aanrig.

Ed Ballard, ’n Britse baritonsanger, het geskryf die rede dat dit so gevaarlik is, is omdat opera baie veeleisend op jou stem is. Dit is nie net die vertonings wat baie stremming op jou stem sit om bo ’n orkes uit te sing nie, maar ook al die oefeninge, waar jy maklik meer as 30 uur per week sing. ’n Mens se spiere moet sterk genoeg wees voordat jy kan begin opera sing.

Die woord opera kom nie verniet van die Italiaanse woord “opus” wat “werk” beteken nie.

“Opera is ’n sport,” vertel Janelle. “Dit is baie fisies en jy moet singfiks wees. Jy hou aan oefen vir die res van jou lewe.” Voor ’n spesifieke vertoning is daar nie baie tyd vir oefen nie. Daar is sowat drie repetisies voor ’n produksie. Die eerste repetisie, die Sitzprobe (probe is Duits vir oefening), waar jy net saam met die orkes oefen. “Ons oefen net so vier keer saam met die orkes op die verhoog met al die aksies en dan moet jy dit kan doen,” sê sy opgewonde.

Dis nie so maklik soos wat sy dit nou laat klink nie.

“Ek vergeet baie my woorde. Maar dit gaan oor of die gehoor kan sien ek vergeet my woorde,” lag sy. “Jy doen dit só baie, dit raak tweede natuur. Op ’n stadium weet jy nie meer waar jy nou is nie en wat volgende moet kom nie.”

Sy vertel nederig dat dit altyd ’n verrassing is as sy toekennings wen. Sy het verstaan waardeur skoonheidskoninginne of Oscar-wenners gaan as die wenner verkeerd aangekondig word. Tydens die Fleur du Cap-toekennings het hulle haar naam by die vorige kategorie al per ongeluk gelees. “Dit was ’n baie groot anti-klimaks. Die een keer wat ek nou ’n Fleur du Cap-toekenning kry gebeur dit.”

Sy sou graag ’n meestersklas by Maria Callas wou gehad het. “Sy is een van die sangers wat te veel aangepak het voordat haar stem reg was. Sy het ook net so tragiese liefdeslewe gehad soos meeste operasangers. Dis dalk omdat mense iets op die verhoog sien en dis nie jy nie.”

Wanneer sy nie sing nie, doen sy grimering vir agtergrondkunstenaars in films. Dit was nog altyd ’n belangstelling, maar sy het geleer hoe om dit te doen deur met haar oë te steel by vertonings.

Net soos Andrew Lloyd Webber se produksie vol romanse en vervulde drome, wil sy mense help om te ontspan en die werklikheid te ontvlug.

As iemand nou ’n fliek van haar lewe moet maak, moet Melissa McCarthy die hoofrol speel, sê sy. “Ek lyk so bietjie soos sy en ek hou daarvan om mense te laat lag. Ek het nie ’n probleem om vir myself te lag nie,”  sê sy terwyl sy haar muffinpapiertjie netjies opvou. – Martinette Hay

,

Leave a Reply

Your email address will not be published.