Plaaslike spanwerk hou honger weg tydens inperking

90766727_2994563930587574_3528115178950361088_o

Die eerste voedselbokse is op 26 Maart met behulp van 71 vrywilligers verpak en versprei. FOTO: Spier Wine Farm/Facebook

’n Groep plaaslike ondernemings het ’n projek begin om voedselpakkies te skenk aan kwesbare gesinne in die Lynedoch- en Vlottenburg-gemeenskappe om sodoende dié gesinne se beperkte toegang tot voedselprodukte tydens die grendelstaat aan te spreek.   

In ’n spanpoging tussen die Living Soils gemeenskap-opvoedingsplaas, Spier en die Sustainability Institute is daar sedert die aanvang van die grendelstaat reeds byna 600 voedselpakkies aan dié gesinne geskenk.

Volgens ’n plasing op Spier se webtuiste is daar ’n gemiddeld van vyf mense per gesin en is ongeveer 2 900 individue tot dusver deur hierdie projek bereik.

91959572_3011126208931346_6672099022796226560_o plaaslike spanwerk

Die voedselbokse het ook groente-saailinge van die Spier groente-kwekery bevat om mense aan te moedig om hul eie kos tuis te kweek. FOTO: Spier Wine Farm/Facebook

“Dié kwesbare gesinne het almal kinders wat skoolgaan in die gemeenskappe en is met behulp van opvoedkundige personeel geïdentifiseer,” het die direkteur van volhoubaarheid by Spier, Heidi Newton-King, gesê. 

“Die eerste week was die bokse vir ons só ’n lekker verrassing gewees, want dit het gekom toe ons ’n bietjie van ’n need gehad het… Ons mense was baie bly,” het Lynedoch-gemeenskapslid, Wilma Petersen aan MatieMedia gesê.

Vars groente van die Living Soils opvoedingsplaas en die Spier groente-kwekery is in die bokse verpak en volgens Newton-King is nóg groente deur die varsprodukte-verskaffer, 3Peas, geskenk.

Die Farmer Angus handelsmerk, wat op Spier se wynlandgoed geleë is, het ook eiers geskenk wat in die bokse verpak is. 

IMG_4378 (MR) plaaslike spanwerk

Die voedselbokse bevat ook nie-bederfbare voedselprodukte soos hawermout, mieliemeel en blikkies kos. FOTO: Verskaf/Spier

Ondersteuning duur voort

“Daar sal tydens die res van die grendelstaat-tydperk, weer voedselbokse in hierdie gemeenskappe afgelewer word,” het Amelia Pretorius, kommunikasiebeampte van die Sustainability Institute, gesê. 

Volgens Pretorius het 11 jong boere van Kayamandi en die Paarl, en wat op die Living Soils-plaas werk, toestemmingsbriewe ontvang wat hulle toelaat om op die plaas te werk tydens die grendelstaat.

Spier Volunteer Noviwe Sweetness Lubisi (HR) - plaaslike spanwerk

Spier vrywilliger, Noviwe Sweetness Lubisi, help met die verpakking van die voedselbokse. FOTO: Verskaf/Spier

Gedurende die grendelstaat sal die voedselbokse ook afgelewer word deur bestuurders met geregistreerde permitte, het Newton-King gesê. 

 “[Die Living Soils boere] is vasbeslote om te help en die kos by hierdie gemeenskappe uit te kry,” het Pretorius gesê.

,