Reënwolf tussen die skape

Danie Du toit

Danie du Toit is die hoofsanger van die Afrikaanse band Spoegwolf. Hy is ook ’n digter en ’n restauranteienaar en woon tans in Stellenbosch. FOTO: Wessel Krige

Dit is die jaar 2001. Danie du Toit is 8 jaar oud. Hy en sy boetie, Moskou, en sy beste vriend, Albert, begin ’n band met die naam Kosblik. 

Nou is dit 20 jaar later en hierdie groep staan deesdae bekend as Spoegwolf, die eerste Afrikaanse band om die eerste plek op Apple Music se Suid-Afrikaanse ranglys te beklee. Spoegwolf spog met 7 albums en 47 000 volgelinge op Facebook.

Maar Danie glo nie dat hy so beroemd is nie.

“Ek is maar net ’n imposter,” sê Danie. “Ek is die skaap in die wolf se klere. Ek voel al my lewe lank ’n klein bietjie net asof ek nie hier hoort nie.”

Baie plaaslike musikante en aanhangers sal egter van hom verskil. Oor die laaste twee dekades het Spoegwolf baie gewildheid verwerf. Die groep is ook ’n inspirasie vir baie nuwe kunstenaars, soos Christo du Plessis, die hoofsanger van die Potchefstroomse groep, Van Reg en Rede.

“Danie is ’n reus en hy is iemand wat hoop spreek vir almal wat hy ontmoet. Ons het al baie saam met hom opgetree. En hy kom praat rêrig met ons en gee regtig om,” sê Du Plessis.

Danie du Toit

Danie het saam sy broer, Moskou, die restaurant Drum besit. Die restaurant het in Junie vanjaar sy deure gesluit sodat die broers kan fokus op hul musiekloopbane. FOTO: Wessel Krige

Kort Donner

Daniël Stephanus Rudolph du Toit is op 5 Oktober 1992 in Pretoria gebore. Sy pa, Johan, was ’n onderwyser en sy ma, Tertia, het geskilder. Hy is een van vier kinders. Danie beskryf homself as ’n skaam kind.

“My familie was waar ek rêrig tuis gevoel het. Ek was altyd rêrig skrikkerig vir ander mense en nie baie goed daarmee om vriende te maak nie,” sê Danie. Sy skoolvriende is steeds sy beste vriende, voeg hy by. 

Danie is van jongs af aan kuns blootgestel, en het, te danke aan sy ma, `n groot waardeering vir kuns geleer sê Danie.

“My ma kon honderede skilderye verf, maar een skildery kon sy aan verf en daai skildery is earth shattering. As jy na dit kyk, het dit jou laat besef hoe jy voel,” onthou Danie.

Hy het op ’n jong ouderdom besef dat hy ’n passie het vir musiek en optrede. Vir hom, meen Danie, was daar nie juis ’n keuse nie.

“Daar was geen ander opsies vir my nie. Ek onthou nie ’n tyd waar ek nié gedink het ek gaan ’n musikant word nie. Nog voor ek kon kitaar speel, het ek gedans op my ouers se bed om te kyk of ek soos Bruce Springsteen lyk. Dit is ál wat ek wou wees, en dit is ál wat ek wil wees,” sê Danie oor sy liefde vir musiek.

Danie het sy toekomstige groeplede, Albert van der Merwe (ja, dieselfde Albert van Kosblik) en Chris von Wielligh, in laerskool ontmoet. Dié driemanskap het saam begin musiek maak toe hulle saam in  Hoër Jongenskool Paarl was.

Music

Danie (tweede van links) speel saam met Spoegwolf by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch. FOTO: Wessel Krige

Elektriese kind

Na hoërskool, het Danie uiteindelik sy kans gekry om ’n professionele album te laat opneem. Hulle het aanvanklik ’n paar liedjies opgeneem onder die naam Ysterkoei, onthou Danie.

“Met Ysterkoei het ons die liedjies opgeneem soos Lenie Blou, Kort Donner en al daai goed. Ons het toe met daai liedjies gegaan en by die Huisgenoot gaan geld leen vir ’n groter album. Toe release ons dit onder die naam Spoegwolf.”

Danie meen sy musiek is beïnvloed deur verskeie musikante. Hy noem egter spesifiek Bruce Springsteen, David Kramer en Valiant Swart as musikante wat sy musiek en optree-styl sterk beïnvloed het.

“Bruce Springsteen vir die physicality van sy loopbaan, die feit dat hy sy body on the line sit met shows en sy stem on the line sit. Dis iemand wat elke keer, amper op ’n desperate manier, sy hele liggaam en siel gee vir ’n show,” sê Danie 

Wanneer dit by sy eie optredes kom, is Danie bekend vir sy energie, en die passie en interaksie met sy aanhangers.

“Dit is my desperaatheid. Ek is net desperate om hierdie te doen… Desperate om my beste te gee, want dit is die ding wat ek die graagste wou doen,” sê Danie oor sy verhoogpersoonlikheid. 

“As ek op daai stage klim, wil ek elke keer my hart en my siel en my liggaam en my drome daar neerlê, want dit is ál wat ek wil hê,” sê Danie.

Danie gee meer vir mense as wat die ander meeste musikante doen, meen Albert van der Merwe, die baskitaarspeler vir Spoegwolf.

“Baie mense doen min moeite as dit by lirieke kom en is bang om oor hul eerlike ervaring te sing. Danie se doel as kunstenaar is om ’n teengif vir die lelike goed in die lewe te bied,” sê Van der Merwe oor Danie se vermoë as liedjiekrywer. 

Spoegwolf

Spoegwolf het die vrystelling van hul sewende album, Groen, gevier by die Daisy Jones Bar. Die geleentheid is ook oor die internet uitgesaai. FOTO: Wessel Krige

Tydens sy tyd in Spoegwolf het Danie ook sy eerste twee digbundels, Warmer voor die Tuimeldroër (2020) en Sterreval (2021), vrygestel. Volgens Danie het skrywers soos JD Salinger, Ernest Hemingway en Deon Meyer, ’n invloed op sy digkuns gehad.

“Ek dink nie daar is ’n verskil tussen ’n gedig en ’n goeie paragraaf nie,” sê Danie. “Volgens my kan jy enige paragraaf van JD Salinger en Hemingway vat en dit sal so goed wees soos enige gedig.”

Wanneer dit kom by die stories agter sy lirieke en gedigte, glo Danie dat inspirasie oral gevind kan word.

“Kuns is oral. Ek is nie baie goed daarin nie, maar ek glo maar net dat ons die klein dinge moet waardeer. As jy die klein dinge waardeer, dan sal jy agterkom hulle rym en daar is magic in alles. Dan kan jy enige iets neerskryf en dit is altyd lekker om te skryf.”

Danie du Toit

Danie staan by die restaurant in Dorpstraat, Stellenbosch, wat hy en sy broer saam besit het. FOTO: Wessel Krige

Reënwolf

Spoegwolf is tans een van die gewildste bands in Suid-Afrika. Danie kyk terug op die laaste 20 jaar en waardeer die klein dinge.

“Die malste ding wat gebeur het, was vir my toe ons by shows begin opdaag en daar is actually mense,” sê Danie.

Hy kyk met groot vreugde terug na die geleenthede wat hy oor die laaste 20 jaar met Spoegwolf gehad het.

“Die mees exciting moments vir my was toe David Kramer nou die dag ’n song saam met ons kom opneem het. Dit was nogals cool,” sê Danie oor die geleentheid om met een van sy helde te kon werk.

Na 20 jaar van rock en roll, glo Danie dit is tyd om rustig te raak.

Danie moedig aspirantmusikante aan om vriende te kry met wie hulle ’n lang pad sal kan stap, en om altyd aan te hou doen wat hulle geniet. 

“Ek wil so ’n bietjie kalmeer, dinge rustig vat. Ek het nou ’n huis gekoop en ek wil tuin maak, vrugtebome plant en met my girl net lekker aanhou leef. Ek wil braai en my familie nooi. Dit is wat ek wil doen,” sê Danie oor sy planne vir die toekoms.