Spoegwolf gee hul alles vir hul nuwe album

Die Afrikaanse rock-groep Spoegwolf sal ’n splinternuwe album, getiteld Die Donker Toring, op 30 Junie uitreik.

Volgens hul hoofsanger en liedjieskrywer, Danie du Toit, sal dié album baie van hul vorige albums verskil.

“Ons het besluit om hierdie keer all in te gaan,” het hy gesê.

Die groep het ook langer daaraan gewerk.

“Ons het twee keer soveel tyd en geld daarin belê,” het Du Toit gesê. “Ons het baie saam gesit en gewonder oor die album.”

’n Baie belangrike verandering volgens Du Toit, is dat daar meer samehorigheid tussen hul nuwe liedjies is. Die rede hiervoor is dat hy die lirieke binne dieselfde tydperk geskryf het.

“Daar was nie regtig kohesie tussen die liedjies op vorige albums gewees nie,” het hy gesê. “Hopelik maak dit die kohesie tussen dié liedjies sterker.”

Spoegwolf stel hul tweede vollengte album, Somer, by Die Boer bekend. Luca Hart vergesel vir hulle op viool. FOTO: MARIUS BOONZAIER

Die album sal Die Donker Toring genoem word omdat dié titel met elke lid resoneer.

“Dit beteken iets vir die band,” het Du Toit gesê. “Die hele idee daarvan is vir ons na-aan die hart.”

Die eerste enkelsnit vanaf die album is “Hartaanval.” Dit is op 23 Maart bekendgestel en is ook op iTunes beskikbaar.

Dit blyk asof die voorsmakie aanhangers se entoesiasme vir die res van die album aangevuur het.

“Die liedjie is – soos altyd – ’n wenner,” het Elodi Troskie, ’n BA Taal en Kultuur-student, gesê. “Dit voel asof Kersfees vroeg kom.”

“Dit is opwindend om te sien dat daar sulke goeie musiek in Afrikaans gemaak word,” het Carla Smith, ’n Drama-student, gesê.

“Spoegwolf is uniek,” het Casper Labuschaigne, ’n BRek Honneurs-student gesê. “Hulle musiek is iets dieper. Jy kan hul musiek luister en net verdwyn.”

Volgens Labuschaigne lê die probleem nie by Spoegwolf indien ’n persoon nie aanklank by hulle vind nie, maar eerder by die persoon self.

Die Donker Toring sal Spoegwolf se derde vollengte album, na Swaartekrag en Somer, wees. 

-Marius Boonzaier