Spur stop burger-aanbod op Maandae

Stellenbosch-inwoners is verbaas oor die nuus dat Spur se burger-aanbod op Maandae, waar kliënte twee burgers vir die prys van een kan koop, gaan eindig.

’n E-pos met die nuus, wat MatieMedia gesien het, is in Maart aan alle takke van die restaurant versprei. 


Die e-pos lui dat Spur se bemarkingstrategie gaan verander. Die restaurantgroep se spyskaart sal ook verander.


Hoewel die verklaring lui dat die twee-vir-een-aanbod op Maandae eers einde Mei beëindig sal word, het die kliëntedienslyn bevestig dat dit verkort is tot die einde van Maart.

Spur se twee-vir-een-aanbieding sal binnekort nie meer beskikbaar wees nie. Foto: SPUR

Kinders wat op Woensdae verniet kan eet, en die biefstuk-aanbod op Donderdae, sal ook in April beëindig word.

’n Nuwe promosie sal die twee-vir-een-aanbod vervang, waar ’n burger vir R50, en ’n sous teen afslag, gekoop kan word. Die restaurant sal mettertyd ook ander promosies aankondig.


Talle Stellenbosse inwoners meen Spur gaan geld verloor omdat baie studente ná die Varsity Cup op Maandae Spur toe gegaan het.


Dries Swart,’n Matie, glo dat Spur kliënte gaan verloor omdat Maandae-aande die enigste tye is waar die rye by Spur lank was. “Ek gaan nou sommer nie meer Varsity Cup toe gaan nie, want waar moet ek nou my burgers kry?” voeg hy grappig by.


Amy Ruiters, ook ‘n student, sê dat Maandae die enigste tye is wat sy by Spur gaan eet het. “Ek kan nie onthou wanneer laas iemand vir my gevra het om Spur toe te gaan wanneer dit nie Maandag is nie.”


Bianca Smith sê dat sy nie glo dat Spur nie geld maak met die “Burger-Maandae” nie. “Ander Spurs, miskien, waar daar nie so baie studente is nie. Maar op Stellenbosch maak hulle beslis geld.”


Stehan Malherbe, ‘n skoolseun van Paul Roos Gimnasium, sê dat die twee-vir-een-aanbod die enigste kos was wat hy met sy sakgeld kon bekostig. “Die ander kos op die spyskaart is te duur. Ek weet nie waar ek en my vriende nou gaan uiteet nie.” – Lida Malherbe en Franco Havenga

, ,