Stampvol en warm, maar die 16de SA Kaasfees was ’n reuse-sukses

Die SA Kaasfees, wat vanjaar sy 16de bestaansjaar gevier het, was weereens ’n reuse sukses met Saterdag en Sondag se kaartjies wat uitverkoop was.  

Die fees het die afgelope naweek plaasgevind by Sandringham-plaas buite Stellenbosch en het gesorg vir ’n verskeidenheid van kase en wyne om te proe en koop.  Feesgangers kon kies en keur tussen kaas van bekende name soos Ladysmith, Fairview en Simonsberg, sowel as wyn van Stellenbosch Hills, D’Aria en Rooiberg. Behalwe vir die kaas en wyn was daar ook allerlei kosse en soetgoed.

Die feesgangers het tou gestaan vir koskuns, demonstrasies deur bekendes soos Nataniël en daar was beslis nie ’n tekort aan aktiwiteite nie. Feesgangers kon ook aan aktiwiteite deelneem soos ’n kaasproe-kompetisie en “kaas-kerf”.

RSG-omroepers Amore Bekker en Haidee Muller het praatjies gelewer by die Agri Expo Kospot en

kunstenaars soos Kurt Darren en Blackbyrd het gesorg vir vermaak.  

’n Tent by die SA Kaasfees is stampvol kaas en wynliefhebbers. FOTO: MARIUS BOONZAIER

Die fees is ook gewild onder studente, hoewel die studente eerder agter die wyn as die kaas aan is.

“Ek het eintlik vir die wyn gegaan, maar ek het ook die kaas en olywe geniet,” het Annemien Liebenberg, ’n BRek Honneurs student aan die Universiteit van Stellenbosch, gesê.

Liebenberg het gesê dat sy hierdie jaar se fees meer as vorige jare geniet het.  “Die atmosfeer was great, die musiek was lekker en dit was ’n hoogtepunt om met ou vriende op te vang.”

Liebenberg het gesê dat al laagtepunt die hitte was, aangesien dit Saterdag ongeveer 34ºC was.

Vir Dewald Smit, ’n prokureur en Stellenbosch allumni, was die hitte op Saterdag ook die enigste laagtepunt. “Hoewel dit ongelooflik lekker was, was dit net regtig warm en daar was te veel mense.”

Smit voeg by dat die atmosfeer gesellig was en almal altyd lekker saam kuier by die fees. “Ek het dit geniet om weer al my vriende te sien omdat werk ons besig hou.”

Schalk Theunissen, ’n Maties BSc Agric Veekunde-student, het gesê: “Ek het hierdie jaar meer kaas geproe as gewoonlik.  Die fees was meer toeganklik en Checkers se opslaan winkel was cool.”

Theunissen stem saam dat daar egter net te veel mense was.

Volgens die SA Kaasfees, wat deur Agri Expo georganiseer word, se Facebook-blad was die fees ’n reuse sukses en sien hulle uit vir die volgende een.  Die beoogde datums vir 2018 se fees is 27 tot 29 April.

– Marius Boonzaier en Marli van Eeden