Stellenbosch-studente spandeer duisende op kruideniersware

Om kruideniersware te gaan koop is iets waarna studente elke maand opsien omdat kospryse gedurig styg. Daar is wel maniere om geld te spaar as jy slim koop.

MatieMedia het ondersoek ingestel oor hoe studente kan geld spaar, waar studente verkies om hul kruideniersware te koop en hoeveel geld hulle daarop spandeer.

Die meerderheid van studente spandeer gemiddeld tussen R800 en R1000 per maand op kruideniersware. Dit beteken dat hulle sowat R10 000 per akademiese jaar op kruideniersware spandeer. Vir ’n drie-jaar graad beloop dit dan sowat R30 000.

“Dit is ongelooflik duur om gesond te probeer eet as student. Ek koop skaars drie sakkies vol kos en dit kos R1000. Vir die prys van twee avokado’s kan ek ’n McDonald’s meal koop,” het Marizanne Nel, ’n Rekeningkunde-student gesê.

(GRAFIKA DEUR: Martinette Hay)

Checkers is die mees gewilde keuse vir studente om hulle inkopies by te doen. Uit die 100 studente wat aan die opname deelgeneem het, verkies 58 studente om hulle kruideniersware by Checkers te koop. Pick ’n Pay is in tweede plek met 26 studente wat hulle inkopies daar koop.

“Ek doen my inkopies by Checkers, omdat dit gerieflik is om vinnig na klas by die Eikestad Mall verby te loop en te kry wat ek nodig het. Dit is ook gewoonlik goedkoper as ander plekke,” het Karla Pretorius, ’n student in Geesteswetenskappe gesê.

(GRAFIKA DEUR: Martinette Hay)

Die meeste studente (61) verkies om weekliks te gaan kruideniersware koop. “Omdat ek alleen bly kan ek nie vir ’n maand vooruit koop nie, want alles word te vinnig sleg en dan moet ek weer geld daarop spandeer,” het Andrea O’Reilly, ’n onderwysstudent gesê.

(GRAFIKA DEUR: Martinette Hay)

Volgens Matthew Gardner, ’n finansiële beplanner, is daar verskeie maniere hoe jy kan geld spaar wanneer jy kruideniersware koop. Sy raad is dat jy altyd met ’n inkopielysie winkels toe moet gaan en slegs koop wat op jou lysie staan.

Dit is ook belangrik om pryse te vergelyk tussen verskillende winkels en om ook te kyk watter items op promosie is. “Jy moet ook altyd oplet wanneer jou items opgelei word by die kassier. Dit het al verskeie kere met my gebeur dat ’n item duurder is as wat die prys op die rak is,” het Gardner gesê. – Martinette Hay

,

Leave a Reply

Your email address will not be published.