Stellenbosch Universiteit verwelkom kore vir Kuesta-koorfees

Die Stellenbosch Universiteitskoor sal die naweek drie ander universiteitskore vir die tweejaarlikse Kuesta Universiteitskoorfees verwelkom.  Dié koorfees vind van 8-9 September in die Endler plaas.  

André van der Merwe lei die US-koor tydens ’n optrede in die Endler. FOTO: Verskaf

Die Stellenbosch Universiteitskoor sowel as die Universiteit van Johannesburg-koor, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteitskoor en die Noordwes-Universiteit se Puk-koor sal by dié geleentheid optree.

“Ons is hard aan die werk,” sê Hannelore Lubbe, ondervoorsitter van die US-koor.

André van der Merwe, koorleier van die US-koor, beaam dit en is veral opgewonde om die ander kore op Stellenbosch se “mooi kampus” te verwelkom.

“Hierdie fees gaan daaroor dat die kore musiek met mekaar deel,” sê hy.

“Dit is wonderlik om die musiek uit te voer vir so ’n waarderende gehoor.”

Die Kuesta-koorfees is ‘n hoogtepunt op die US-koor se kalender.  Foster Lubbe, een van die koorlede, sê die US-koor is goed voorbereid vir die naweek

“Ons het reeds in Oktober verlede jaar ons musiek ontvang en het sedertdien baie hard gewerk om die musiek se volle potensiaal te benut,” sê hy.

Die Stellenbosch Universiteitskoor is pas vir die vyfde agtereenvolgende jaar as die beste koor in die wêreld aangewys.  Die koor het weereens die nommer een posisie op die Interkultur wêreldranglys behaal.

“’n Mens is trots!  Dit is ’n wonderlike erkenning aan volgehoue toewyding,” sê Van der Merwe, wat sedert 2003 koorleier van die koor is.

Die Interkultur wêreldranglys is ’n ranglys wat saamgestel word uit meer as ’n duisend internasionale kore wat sedert die jaar 2000 deelneem aan Interkultur kompetisies soos die tweejaarlikse Wêreld Koorspele.

Van der Merwe sê dit is toewyding en harde werk wat verseker dat die koor jaar na jaar eerste plek behaal.

“Die musiek kom eerste. My koorlede wéét dit. As die musiek die praatwerk doen val baie ander goed in plek,” sê hy.  

“Ons neem aan kompetisies deel om ons eie standaarde uit te daag.  ’n Mens gaan nie altyd wen nie.  Wié jy is mag nooit deur ’n kompetisie bepaal word nie.”

Daarom is dit vir Van der Merwe belangrik dat die koorlede die kompetisies moet geniet en hulself kan uitleef in die optredes.

Kaartjies vir die Kuesta Universiteitskoorfees beloop R140 en is by Computicket beskikbaar. – Marius Boonzaier & Marli van Eeden

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.