Stellenbosch-verblyf duurste in land

Stellenbosch se studente en hul ouers kla nie verniet oor die duur verblyfkostes nie,
private verblyf op die dorp is die duurste in die land en koshuise naasduurste, met Pretoria ’n kortkop voor.

Private studenteverblyf op Stellenbosch kos R68 000 per jaar vir ‘n studio-woonstel, teenoor R61 000 in Pretoria en R 53 000 in Port Elizabeth. Potchefstroom is die goedkoopste teen R44 800.

Dié pryse is van CampusKey, ‘n maatskappy wat verblyf op kampusse aanbied.
“Ek betaal nou meer as dubbeld as wat ek in Bloemfontein betaal het, maar ek kry nie eens
die helfte van die voordele nie. Ek moet nog my elektrisiteit en wi-fi apart ook betaal,” het
Karla Pretorius gesê. Sy het eers in Bloemfontein studeer en het onlangs Stellenbosch toe
getrek.

Hoewel koshuisverblyf steeds die goedkoopste opsie is, is dit heelwat duurder om in ’n
koshuis in Stellenbosch te bly as by sommige ander universiteite in die land. Die
gemiddelde koste vir ’n koshuiskamer in Stellenbosch is R32 880 per jaar. Pretoria is die
duurste teen R34 200 per jaar.

Die goedkoopste koshuise is R17 630 per jaar aan die Noordwes-Universiteit, en R20 585 aan die Universiteit van die Vrystaat.

Volgens Neelsie Eiendomme se nuutste verhuringslys wissel die pryse vir ’n
eenslaapkamer-woonstel op Stellenbosch tussen R4 700 en R8 000 per maand.

’n Eenslaapkamer-woonstel in die hartjie van Stellenbosch op Private Property kos R10 500
per maand.

“Ek betaal maar eerder meer sodat ek weet ek is veilig en binne stapafstand van al my
klasse,” sê Karla Muller. Sy is’n eerstejaarstudent in Rekeningkunde op Stellenbosch.
Eiendomsagente in die omgewing sê die grootste rede vir die buitensporige pryse is die
tekort aan studenteverblyf. Verhuurders vra wat hulle wil omdat hulle weet mense is
desperaat vir verblyf naby kampus. Die tendens in Stellenbosch is dieselfde as ander plekke
in die land – hoe meer sentraal die verblyf is, hoe meer moet jy betaal.

‘n Dameskoshuis op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch wat R32 880 per
jaar kos. FOTO: Facebook