Te min parkering dalk eersdaags iets van die verlede

Sommige studente kom alewig laat vir klas omdat hulle heeltyd om die blok moet ry om ’n parkering te kry. Maties se moontlike oplossing is dalk in sig.

Die doel van Poynt Fietse is om ʼn koste-effektiewe en praktiese oplossing vir die vervoerbehoeftes van die Stellenbosse gemeenskap te bied.

“Stellenbosch was nog altyd ’n fiets-vriendelike dorp. Baie mense het vroeër jare hier fietsgery,” het Alistair von Glehn, Poynt se operasionele bestuurder, gesê.

Die Poynt Fietse wat tans buite Man’oushe-restaurant in Stellenbosch gehuur kan word. FOTO: Martinette Hay

Hulle is nie in verbinding met die Universiteit van Stellenbosch nie omdat “die universiteit klaar saam met Maties Fietse werk en nie met nog so ’n tipe besigheid in verbinding wou tree nie,” het Von Glehn gesê.

Dit gaan baie maklik wees om ’n fiets te huur. Al wat ’n mens hoef te doen, is om die toep op jou selfoon af te laai en dan kan jy ’n fiets by ’n stasie “oopsluit”. Wanneer jy die fiets terugbring, registreer ’n mens dit weer op jou selfoon.

Die sisteem funksioneer egter nog nie op die oomblik soos dit moet nie. Dus is daar tans net een stasie waar jy ’n fiets kan huur, oorkant Man’oushe-restaurant in Andringastraat.

“Ek wonder altyd hoe goed so iets sal werk, of mense dit sal probeer steel, maar ek hoop dit sal ʼn sukses wees,” sê Murray Heymann, ʼn finalejaar BSc-student.

By die stasie in Andringastraat word fietse tans per hand uitgeteken. ʼn Foto van ’n mens se identiteitsdokument en ʼn ondertekende verklaring word benodig voordat jy die fiets mag neem.

Sommige van die stasies is reeds in plek, soos by Simonsrust Spar, al die CampusKey-woonstelblokke, die Kruiskerk en die BP-vulstasie in Dorpstraat. “Ons onderhandel nog om ’n stasie te bou by die Eikestad Mall,” het Von Glehn gesê.

Poynt Fietse is vanaf volgende jaar by al die stasies beskikbaar. GRAFIKA DEUR: Franco Havenga

Poynt Fietse is vanaf volgende jaar by al die stasies beskikbaar. GRAFIKA DEUR: Franco Havenga

Volgens Johannes Leuvenninck, ʼn meesters Ingenieursstudent is hierdie inisiatief ook ʼn goeie idee vir toeriste. “Ek het al soortgelyke stelsels in New York en in Londen gebruik om rond te ry en die stad te verken.”

Bogani Hoohlo, ʼn meesters Ekonomie-student sê dat die Matie-fietse dalk beter vir studente sal werk, aangesien mens weer die deposito ontvang, indien jy die fiets aan die einde van die jaar in ’n goeie toestand terug besorg.

Poynt Fietse kan tans teen R60 per uur gehuur word en Von Glehn meen dat die pryse heel waarskynlik sowat R9 per dag volgende jaar sal beloop. Martinette Hay en Franco Havenga

,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.