US kan aanlyn-wangedrag straf

IMG_2297

Wangedrag op sosiale media kan tot sanksies lei. FOTO: Annerine Snyman

Studente moet waaksaam wees op sosiale media, want wangedrag kan tot sanksies lei. Dit is die raad van regskenners aan studente by die Universiteit Stellenbosch (US). In die US se dissiplinêre kode, onder hoofstuk een, word gedrag deur middel van sosiale media onder die definisie van “dissiplinêre wangedrag” ingesluit.

Dissiplinêre wangedrag word volgens dié kode as ’n “sambreelterm” gebruik wat neerkom op enige oortreding van die daarin uiteengesette beleide, reëls of instruksies.

“Rassistiese, lasterlike of diskriminerende optrede deur studente word streng verbied. Nienakoming van dié verbod kan dissiplinêre optrede tot gevolg hê wat ʼn skorsing of ander vorme van sanksie kan insluit,” verduidelik dr. Theo Broodryk, bestuurder van die US se regskliniek.

’n Verdere vraag wat egter geopper kan word is vryheid van uitdrukking wat deur die Grondwet beskerm word. Volgens Cobus Jooste, ’n dosent in Intellektuele Goederereg aan die US, neem die universiteit dit ernstig op om die regte en vryhede van die studente en personeel te beskerm. Jooste meen dat dit werklik die geval is en dat die universiteit nie stappe gaan neem teen studente wat sosiale media gebruik vir ligtelike redes nie.

“Gevalle waar die universiteit sal optree is baie nou, baie spesifiek. Dit is gewoonlik in die belang van die groter akademiese omgewing,” sê Jooste. Dié omgewing sluit, volgens Jooste, nie slegs die universiteit self in nie, maar ook die personeel en medestudente.

Indien ’n student egter aangekla word van laster, kan hulle, volgens Jooste, steun op vryheid van uitdrukking as ’n verweer, solank dit gesien word as óf billike kommentaar, op ’n redelike wyse óf as die waarheid, met ander woorde in gevalle waar feite gerapporteer word.

IMG_2299 (1)

Studente word aanspreeklik gehou vir dit wat hulle plaas, ongeag of hulle uitdruklik sê dat hulle studente aan ’n sekere universiteit is. FOTO: Annerine Snyman

Luke Waltham, voorsitter van die UNASA Stellenbosch-vereniging, wat meer as 140 000 Twitter-volgelinge het, meen dat sosiale media ’n effektiewe platform is vir studente om te kommunikeer en om ’n gemeenskap te vorm te midde van ’n vol program. Hy meen ook dat die landswette as riglyne dien waarvolgens mense hulle gedrag kan rig.

“Wie jy is word met die instelling verbind, so ons moet dit in ag neem, maar op die einde van die dag om dissipline of gevolge in die gesig te staar het mens vryheid tot spraak. Neem wel kennis dat gevolge en verantwoordelikhede daarmee saam gaan,” sê Waltham.

Jooste verduidelik verder dat daar wel gevalle is waar die universiteit eerder nie stappe sal neem nie, of eerder die nodige stappe binne departemente of koshuise sal kanaliseer.

Die bepalings waarop die universiteit steun wanneer sanksies teen studente vir uitlatings op sosiale media oorweeg word, is paragraaf 11 in die dissiplinêre kode.

Broodryk verduidelik dat proporsionaliteit wel ’n rol speel wanneer ’n sanksie opgelê word. Daar is egter ook ander faktore wat in ag geneem word.

“Daar sal ag geslaan word op die spesifieke persoon wat die plasing gemaak het; of die persoon ’n skoon dissiplinêre rekord het, al dan nie; asook die konteks waarbinne die insident plaasgevind het,” sê Broodryk.

Waltham verduidelik dat wanneer hy ’n plasing maak, neem hy altyd die konteks, doel en nagevolge daarvan in ag.

“Ek sal seker maak dat die manier hoe ek ’n plasing saamstel in lyn is met die korrekte regulasies,” sê Waltham. Hy verduidelik ook dat hy die Grondwet ten sterkste in ag neem.

Waltham meen egter dat daar meer gedoen kan word, veral in terme van werkswinkel-opleiding, om mense in te lig oor meer verantwoordelike sosiale media-gebruik.

Volgens Jooste is die doel van sulke sanksies egter om die oortreding te korrigeer, asook om aan die publiek oor te dra dat sulke tipe gedrag onaanvaarbaar is.

Studente kan ook aanspreeklik gehou word, ongeag of hulle uitdruklik op hulle sosiale media-profiele sê dat hulle ’n student aan ’n spesifieke instelling is. Hulle kan ook aanspreeklik gehou word, ongeag of hulle ’n vrywaring op hulle profiel sit dat dit wat hulle sê nie verband hou met die instelling waarmee hulle verbind word nie.

“So ’n vrywaring beteken min, indien dit enigsins ’n effek het,” sê Jooste.

IMG_2298

Studente moet die US se dissplinêre kode volg, selfs wanneer hulle platforms soos Facebook of Instagram is. FOTO: Annerine Snyman

,