Van Coke Kartel eindig hul laaste Stellenbosch-optrede ooit met ’n ‘bang’!

Van Coke Kartel het hul laaste optrede in Stellenbosch op ’n hoë noot op Woensdagaand by Aandklas geëindig.

“Hulle het geadverteer dat die band met ’n bang wou eindig en hulle het beslis daarin geslaag,” het Hendri van Zyl, ’n aanhanger by die konsert, gesê.

Van Coke Kartel het vroeër vanjaar aangekondig dat hulle na ’n dekade op een finale toer, “Jägermeister presents Van Coke Kartel: The Final Tour,” sal gaan.

“Ons het besluit om dit op ’n hoë noot te eindig,” het Francois van Coke, hoofsanger van Van Coke Kartel, gesê.

“[Van Coke Kartel] was vir ’n lang tyd ’n baie belangrike ding vir ons, maar ons was ook onaktief vir twee jaar,” het hy gesê.

Van Coke Kartel se eerste Stellenbosch-vertoning in 2008 was ook by Aandklas.

Intussen het die groep vyf albums en een plaat uitgereik, drie tromspelers gehad en regoor die wêreld opgetree.

Aandklas was Woensdagaand stampvol en die gehoor het al vroeg “Van Coke, Van Coke” gejuig.

“Mense het regtig uitgekom om die laaste optredes te kom kyk. Hulle het regtig hul waardering vir ons kom wys,” het Van Coke gesê.

Die aand het afgeskop met optredes deur The Vanilla en The Sweet Resistance, waarna Francois van Coke, Wynand Myburgh, Jedd Kossew en Jason Oosthuizen vir hul tweede laaste keer as Van Coke Kartel opgetree het.

Die gehoor kon vir ’n laaste keer in Stellenbosch sien hoe Van Coke Kartel “Buitenkant II” en “Voor Ons Stof Word” optree. Die gehoor het ook luidkeels met “Tot Die Son Uitkom” saamgesing. Die aand het met “Verdoof. Vergiftig. Verskoon My” afgesluit.

Van Coke Kartel (van links): Jason Oosthuizen, Francois van Coke, Wynand Myburgh en Jedd Kossew. FOTO: JACO S. VENTER

Van Coke Kartel (van links): Jason Oosthuizen, Francois van Coke, Wynand Myburgh en Jedd Kossew. FOTO: JACO S. VENTER

“Van Coke Kartel was insane. Jy kon sien hulle het alles gegee omdat hulle weet dit is een van hul laaste optredes,” het Van Zyl gesê.

Volgens Van Coke is “dit ’n bittersoet.” “Dit is lekker om die liedjies vir oulaas te sing.”

“Dit is hartseer, maar dit is verstaanbaar,” het Schalk Theunissen, ’n Matie-student, gesê.

Hoogtepunte wat deur die groeplede gedeel word, is om ’n verhoog saam met heavy metal-groep Metallica te deel, ’n Hyundai H1-minibus in MK se “Beste Groep-kategorie” te wen en om voor 100 000 mense by die Ho Hai Yan-fees in Taiwan op te tree.

Van Coke Kartel sal Vrydagaand, 28 Julie, die toer by Mercury Live in Kaapstad afsluit met hul laaste optrede ooit. – Marius Boonzaier

,