Van Coke verras studente tydens middagete

Francois van Coke en lede van sy band, Die Gevaar, het Woensdag tydens middagete ‘n verrassingsoptrede voor die US-konservatorium gehou.

Die plaveisel rondom die opskietverhoog was gepak met studente.

Die vertoning het goed begin, maar is deur klankprobleme onderbreek.

Die komediant Schalk Bezuidenhout was seremoniemeester en het gou gespring om sake reg te ruk .

Hy het met Van Coke se hoofkitaarspeler, Jedd Kossew, gespot dat hy nie genoeg soos ’n “rock n roll”-kunstenaar lyk met sy kortbroek aan nie.

Die vertoning het gou voortgegaan en die gehoor is met liedjies van Van Coke se nuwe solo album, Hierdie is die Lewe, bederf.

Die gehoor het uit volle bors saam gesing met ouer liedjies soos “Toe vind ek jou,” “Tot die son Uitkom” en “Hemel op die Platteland”.

Die vertoning het net ’n halfuur geduur, maar Van Coke sou Saterdag by die Jan Marais-natuurreservaat in Stellenbosch optree. – Marius Boonzaier en Marli van Eeden

Francois van Coke en lede van Die Gevaar tree voor die US Konsevatorium op. FOTO: MARIUS BOONZAIER

,