Matie vertolk hoofrol in Vaselinetjie wat vandag in fliekteaters begin speel

Vaselinetjie, wat die Silwerskermtoekenning vir beste fliek gewen het, begin vandag in fliekteaters draai. Die twintigjarige Matie-student Marguerite van Eeden vertolk die hoofrol in dié fliek.

Marguerite van Eeden met haar Silwerfees-toekenning vir beste opkomende aktrise. Foto: Verskaf deur Marguerite van Eeden.

Marguerite van Eeden met haar Silwerfees-toekenning vir beste opkomende aktrise. Foto: Verskaf deur Marguerite van Eeden.

Van Eeden is met die toekenning vir beste opkomende aktrise by die onlangse kykNET Silwerskermfees bekroon vir haar rol as Vaselinetjie.

“Dis ’n baie lekker gevoel,” lag sy nederig oor dié prestasie.   

“Maar ek dink nie sukses moet op toekennings baseer word nie.”  

“Ek dink die ander akteurs soos Arno [Greeff], Elzet [Nel] en Elani [Dekker] moet ook vir hul spel vereer word.”  

Van Eeden moes haar kursus in BA Drama opgee sodat sy die rol van Vaselinetjie kon vertolk.  

“Die opoffering was die moeite werd.  Die rol het vir my baie beteken en dit was ’n geleentheid wat ek nie kon prysgee nie.”  

Van Eeden sê die mense wat sy op stel ontmoet het is een van die hoogtepunte en dat sy steeds vriende met hulle is.  Dié fliek het ook vir haar die kans gegee om die filmbedryf te leer ken en te ervaar hoe dit op ’n fliekstel is.  

“Ek dink ’n mens moet ’n rol vertolk wat vir jou betekenis dra,” voeg sy by.  

Besig met die een van die tonele van die fliek. Foto: Verskaf deur Marguerite van Eeden.

Besig met die een van die tonele van die fliek. Foto: Verskaf deur Marguerite van Eeden.

Van Eeden sê Vaselinetjie het vir haar geleer daar is niks fout daarmee om nie altyd te weet wie jy is nie en Van Eeden kon vereenselwig met haar soeke na identiteit.  

“Ek het al self daarmee gesukkel en daarom kon ek met haar vereenselwig,” sê sy.  

Van Eeden en Nicole Bond (14) wie die jonger Vaselinetjie in die fliek speel. Foto: Verskaf deur Marguerite van Eeden.

Van Eeden en Nicole Bond (14) wie die jonger Vaselinetjie in die fliek speel. Foto: Verskaf deur Marguerite van Eeden.

“Sy is ’n doodgewone, plat-op-die-aarde tienermeisie wat probeer vasstel wie sy is en leer om haar verlede te aanvaar.”

Van Eeden voeg by dat tieners met die kwessies waardeur die karakters in die fiek gaan, sal kan identifiseer.  

“’n Fliek moet die kyker kwaad, gelukkig of opgewonde laat.  Dit moet reaksie ontlok en ’n effek op mense hê.”  

Van Eeden studeer tans BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch.  Behalwe dat sy op haar studies fokus, verskyn sy ook in die televisie reeks Sara se Geheim.  

Vaselinetjie is gebaseer op Anoeschka von Meck se boek, wat geïnspireer is deur haar ervaring as kinderhuisversorger.  – Marius Boonzaier en Marli van Eeden

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.