Vyf doen-dinge vir die langnaweek

’n Welverdiende langnaweek lê voor ná die eerste kwartaal.

Dit is veral die B.Rek- en ingenieurswesestudente wat ekstra verlig is.  Na hulle onderskeie toetsweke is hulle gretig om agteroor te sit en te rus.  

Mari Hanekom, ingenieurswesestudent, het gesê al wat sy na ’n moeilike toetsweek wil doen is om huis toe te gaan en te rus.

Michaela Krause, ’n IMM B.Com Bemarkingstudent, het gesê: “Ek en my vriende gaan vanaand uitgaan en dalk môre ‘n bietjie Root44 toe gaan.”  

“Ek gaan dalk koek bak en Saterdag braai,” laat Andrea Kotze, ’n  M-virologiestudent hoor.  

Marlize Ter Borg sê dat sy ’n wynplaas wil besoek en  Sondag op Clifton toe wil gaan.  

Hier is gebeure wat studente die naweek kan besoek op Stellenbosch.

Root44 Parkrun

Waar:  Root44, Stellenbosch
Wanneer:  Elke Saterdag
Hoe laat:  8:00

Die Parkrun is ’n inisiatief waar mense bymekaarkom om 5km te hardloop of te stap in ’n veilige natuurlandskap. Parkruns gebeurelke Saterdag op verskillende plekke (onder andere Root44).  Geen toegangsgelde word gevra nie.  Registreer aanlyn op hul webtuiste, www.parkrun.co.za.  

Lourensford Twilight Market

Waar:  Lourensford Estate, Somerset-Wes
Wanneer:  Vrydag, 17 Maart
Hoe laat:  16:00

Die Lourensford markie. FOTO: www.lfhm.co.za

Met ’n keur van verskillende stalletjies is daar ’n groot verskeidenheid kos en drankies om van te kies by hierdie markie. Gryp ’n kombers en hou piekniek terwyl plaaslike musiekgroepe vir vermaak sorg.  Piekniekmandjies kan ook bestel word by www.picnicsatlourensford.co.za.  Toegang is gratis en die mark is kind- en hondvriendelik.  

Loki Rothman live at Café Roux

Waar:  Noordhoek, Kaapstad
Wanneer:  Saterdag, 18 Maart
Hoe laat:  20:30

Kos, wyn en musiek. Loki Rothman, kitaarspeler en sanger, tree op by Café Roux in Noordhoek.  Aandete kan voor of ná die vertoning geniet word.  Kaartjies kos R130 en kan op die webtuiste van Webtickets bespreek word.  

The Tailored Market

Waar:  Visuele Kunsdepartement, Stellenbosch Universiteit
Wanneer:  Saterdag, 18 Maart
Hoe laat:  11:00

“The melting pot of a social market that mixes human expressions of art.” So verwys The Tailored Market na hulself.  The Tailored Market sorg vir ’n  opwindende kombinasie van kos, mode, musiek, digkuns en kunsvlyt.  The Blackroots Marimbas is een van die groepe wat gaan optree.  Toegang is gratis..  

Miss and Mr Khayamandi

Waar:  Amazink, Stellenbosch
Wanneer:  Saterdag, 18 Maart
Hoe laat:  18:00  

Sedert 2009 is Miss and Mr Khayamandi ’n  gemeenskapsprojek wat gemik is daarop om jong vroue te bemagtig en te inspireer.  Die doel hiervan is ook om jong vroue die vaardighede aan te leer om rolmodelle te word wat hul drome najaag.  Besoek die Facebook blad Miss & Mr. Khayamandi 2017 vir meer inligting. – Marli van Eeden