Woef, woef, Winter-Braktrap!

Mense het op Sondag 27 Augustus tougestaan by Stellenbosch se dierebeskermingsvereniging (DBV) se “Winter Braktrap” vir ’n kans om met die honde te stap.

Volgens Anwar Arnolds van Stellenbosch, die bestuurder van die DBV en organiseerder van die Braktrap, hou hulle jaarliks omtrent sewe of agt sulke geleenthede om bewusmaking onder die Stellenbosse gemeenskap te skep.

“Dit is nie ons grootste bron van fondse nie, die doel is eintlik meer om mense te kry om van ons te weet, en ’n bietjie met die honde in aanraking te kom. Baie mense gaan hier weg met ’n liefde vir ’n spesifieke hond, en kom dan terug om hom aan te neem.”

Die Braktrap werk so:

Vir R20 per persoon kan enigiemand een van die honde van die DBV neem om ’n vasgestelde roete deur die wingerd te stap. Mense kan ook hul eie honde bring vir R10 ekstra. Daar word pannekoek en drinkgoed op die perseel verkoop, asook klere vanuit die DBV se tweedehandse klerewinkel.

Die opkoms van mense was so goed dat sommige van die honde tot twee keer kon gaan stap.

“Daar is op die oomblik so 125 honde in die hokke, maar ons totale kapasiteit is amper 180, sê Arnolds. “Van die honde kan nie gaan stap nie omdat hulle siek of aggressief is, maar ons probeer soveel as moontlik van hulle kry om te stap.”

Volgens Dick Crane,’n britse argitek wat al 40 jaar in Stellenbosch woon, is die geleentheid een waarna hy die hele jaar uitsien.

“Ek het ’n sagte plek vir diere sonder huise, want my hond het ek ook op straat opgetel toe sy baie klein was. Nou is sy n terapiehond vir kinders met gestremdhede. Dit wys jou net wat liefde vir ’n hond kan doen.” – Lida Malherbe

“Deel van die meubels”: Een van die honde wat permanent op die DBV se perseel bly. FOTO: Lida Malherbe

“Deel van die meubels”: Een van die honde wat permanent op die DBV se perseel bly. FOTO: Lida Malherbe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.